Local newsNews

Bobbejaan met lang leer gered

’n Bejaarde en beseerde bobbejaan is verlede week met behulp van ’n baie lang leer en mense met ’n passie vir wilde diere gered.

’n Boer op die Driefontein-pad buite Modimolle het die wildlewe-rehabilitasiesentrum Prime Crew, om hulp gevra nadat hy ’n ou bobbejaanwyfie by sy huis opgemerk het. Sy was beseer en ’n draadstrik was styf om haar lyf vasgetrek. Sy het om die huis en die stoor gebly en nie teruggegaan na haar trop toe nie.

“Met ons aankoms het sy hoog in ’n boom opgeklim en dit was moeilik om haar by te kom. Ons het die internetdiensverskaffer Megs Waterberg gevra om te kom help. Hulle het ’n span met ’n 20m-lange leer gestuur,” het Luzanne Kratz van Prime Crew Wildlife vertel.

Die leer was steeds te kort en met behulp van ’n geprakseerde vangpaal kon van die werkers in die boom opklim en haar nader bring sodat Luzanne se dogter, Kimberleah, wat tot bo-aan die leer geklim het, haar kon bykom en afbring grond toe.

Kimberleah Kratz stel ’n wees bobbejaan voor aan ’n volwasse “pleegma”. Foto: Primecrew

Hoewel die bobbejaan nie heeltemal gewillig was om saam met haar af te klim nie, kon hulle haar wonde behandel.

“Sy het my liggies op my hand gebyt, maar is oud en het nie meer skerp tande nie,” het Kimberleah gesê.

Hulle skat dat die bobbejaan sowat 18 jaar oud is. Sy sterk tans aan by Prime Crew Wildlife, waar hulle oorweeg om haar vry te laat saam met ’n ander gerehabiliteerde wyfie en ’n jong mannetjie.

Prime Crew, wat tussen Vaalwater en Modimolle geleë is, rehabiliteer en versorg vanaf 2013 verwaarloosde en beseerde eksotiese ape, asook inheemse ape en bobbejane. Hul liefde vir wildlewe maak egter dat hulle nie ’n blinde oog kan draai vir ander diere wat in nood verkeer nie.

Hulle het gedurende die Covid-19-pandemie baie oproepe vir hulp ontvang en uitgereik na mak diere wat in nood is ook onder die vaandel van Prime Crew Pet Rescue. Nie net sien hulle om na donkies en perde wat verwaarloos was nie, maar het verlede jaar ’n groot sterilisasie-dag in Leseding-woonbuurt in Vaalwater gehou waar meer as 180 diere gesteriliseer is.

Prime Crew is dankbaar vir die hulp wat hulle van die Nylstroom-dierekliniek kry wanneer hulle diere red. Die gesin se liefde vir primate kom al sedert hul in 2011 ’n rehabilitasiesentrum genader het om te help met ’n wees bobbejaantjie. Die sentrum het hulle twee jaar later gevra of hulle nie self ’n sentrum in die Vaalwater-omgewing wil open nie.

“Bobbejane is baie intelligent en sal eerder konflik vermy. Een van die probleme is dat plat dele op plase gebruik word vir saaiboerdery en hul habitat al kleiner word. As ontbossing gedoen word, word sekelbos verwyder en die peule is deel van hul dieet. Alles word van hulle af weggevat en net die berg-gedeeltes bly oor. Waterbronne is dikwels nie toeganklik vir wild nie.”

Dit sal goed wees as boere besluit om ook ’n deel terug te gee vir die natuur. As jy oes, sit ’n deel van die oes uit vir die wilde diere in die omgewing en maak seker dat hulle wel by water kan uitkom, het Luzanne gesê.

Een van hul groot uitdagings is om kos aan al die wilde en troeteldiere wat hulle help, te voorsien. Hul bakkie is verlede jaar in ’n ongeluk afgeskryf en hulle gebruik nou ’n sleepwa.

“Skenkings sal baie help.”

Een van hul inkomstebronne is oorsese studente wat vrywillig kom werk en vir hul verblyf en etes betaal.

Vir meer inligting oor Prime Crew, skakel tel. 073 458 5602 of tel. 082 851 0347. Hul webwerf is: www.primecrewwildlife.org.za en hul Facebookblad is Prime Crew Wildlife.

Related Articles

 
Back to top button