Local newsNews

Planne vir hospitaal in Modimolle gaan steeds voort

Baie inwoners van die Waterberg gis of die planne vir die privaathospitaal in Modimolle nog voortgaan?

Volgens Wiets Botes, wat betrokke is by die Waterberg Healthcare Hub, is die antwoord ’n definitiewe “JA!”.

Die lisensie vir ’n 120-bed hospitaal is in Januarie verlede jaar toegestaan. Die lisensie maak voorsiening vir ’n mediese afdeling (veertig bed), sjirurgiese afdeling (veertig bed) en pediatriese afdeling (tien bed). Daar mag ook ’n intensiewe sorgeenheid (tien bed) en ’n 21-bed dageenheid en twee teaters wees.

Die private Phodi-kliniek in Bela-Bela het in April 2022 toegemaak en die vraag na privaatgesondheidsorg in die omgewing is groot. Inwoners wat nie plaaslik hulp kan kry nie, moet nood-
gedwonge stad toe ry vir noodgevalle en hospitaalbesoeke.

Inwoners is egter huiwerig om die onveilige N1-snelweg snags te ry as gevolg van rowers wat motors voorlê.

“Ons is steeds in gesprek met moontlike beleggers. In hierdie stadium kyk ons steeds na die stuk grond wat teen die rivier agter Spar geleë is vir die ontwikkeling, maar sal ander geskikte grond oorweeg. Die ontwikkeling het sowat vyf hektaar nodig. Ons is in gesprek met moontlike beleggers en wil nie op hierdie stadium veel meer uitwei nie,” het hy gesê.

Related Articles

 
Back to top button