Local sport

Kwaggas byt die spit af

Die Kwagga-rugbyklub in Bela-Bela het op Vrydag, 12 April in hul eerste ligawedstryd hierdie seisoen kragte gemeet teen die Mogol-rugbyklub in Ellisras. Op Vrydag 26 April het hul in hul tweede wedstryd teen die span van Naboomspruit-rugbyklub in Mookgophong te staan gekom.

Hoewel die Kwaggaspan die onderspit gedelf het met die eindtelling op 19-7 teen Mogol en 45-5 teen Naboomspruit, sê hul afrigters dat die manne se veggees duidelik te sien was. Hulle is trots op die span se vertoning en sê dat daar aandag geskenk sal word tydens afrigting, op sekere komponente van die spel.

Gerrie Steyn skop pale toe.

“Die eerste liga-wedstryde was taai, maar die Kwagga-spelers het vasgestaan tot die eindfluitjie geblaas het. Ons beskou die verloor as ’n positiewe ervaring,” het Chris Goosen, een van die afrigters na afloop van die wedstryde gesê.

Hy het voorts gesê dat ander spanne in die liga moet lig loop vir die Kwagga-span.

William Nel, die ander afrigter, het aan Die Pos gesê dat die span jong spelers het wat baie potensiaal toon, en hy is oortuig daarvan dat met harde werk hul later in die seisoen die vrugte gaan pluk.

Ruben Veldsman, die kaptein, het die span aangemoedig en gesê dat met die regte ingesteldheid hulle baie kan bereik.

Related Articles

Check Also
Close
 
Back to top button