Jong pa sterf toe sy motorfiets met dronkbestuurder bots
'n Pa van drie het tragies gesterf na 'n botsing met 'n motorbestuurder wie se bloedalkoholvlak hoër as die toelaatbare minimum was.
Martin Enslin, ‘n pa van drie seuns, is noodlottig beseer toe hy op sy motorfiets met ‘n bakkie gebots op die hoek van HF Verwoerd- en Goolestrate gebots het. Die botsing het omstreeks 17:00 op 28 Julie plaasgevind en Martin is ‘n paar uur later by Pholosong Hospitaal in Tsakane oorlede.
Die bestuurder van die voertuig het aanvanklik van die ongelukstoneel gevlug, maar is later deur EMPD (Ekurhuleni Metro Polisie Diens) aangekeer, waarna sy bloedalkoholvlak getoets is. Daar is bevind dat sy bloedalkoholvlak hoër as die toelaatbare minimum was en hy is op die ongelukstoneel gearresteer. Hy is na Nigel SAPD geneem waar hy van dronkbestuur en strafbare manslag aangekla is. ‘n Getuie op die ongelukstoneel het aan HERAUT gsê: “Ons het ‘n baie harde slag gehoor. Met ons aankoms het ons die ryer in die pad sien lê en die nooddienste onmiddellik ontbied.”
Martin se familie maan motoriste om op die uitkyk te wees vir motorfietsryers. Sy suster Elmarie waarsku mense teen dronkbestuur. Die slagoffer kan iemand se broer, man of pa wees.”
Martin is op 1 Augustus in Nigel ter ruste gelê en laat sy vrou Charlene en seuns Lee (14), Duvan (12) en Juan (8) agter.



