“Sy vertel liegstories vir koerant”, sê stiefpa
'n Stiefpa ontken alle bewerings wat deur sy stiefdogter gemaak is in 'n groot afrikaanse dagblad wat op 7 Augustus gepubliseer is.
NIGEL – “My kinders en vrou kom vir my eerste. As daar geld oor is, koop ek vir my ‘n drankie”, so sê mnr X (skuilnaam). Dit volg na bewerings dat dié stiefpa sy vrou, wat aan kanker ly, se bene breek in die teenwoordigheid van die kinders en hulle gereeld sonder kos laat; waarna hulle by vreemdelinge kos gaan bedel. “Dis nie ‘n misdaad om arm te wees nie. Ek het wel vroeër my eie kinders geslaan, maar nie meer nie. Hulle is my lewe”, sê mnr X.
Dié bewerings deur sy stiefdogter is in ‘n groot afrikaanse dagblad op 7 Augustus gepubliseer. Mnr X se stiefdogter beweer, onder andere, dat haar ma en stiefpa aan heroïen en dagga verslaaf is, dat die stiefpa motoronderdele verkoop om geld vir dwelms te bekom en dat hulle keer op keer hulle woning moes verlaat en selfs in ‘n verlate myn in Nigel van dwelmbase en skuldeisers moes gaan wegkruip.
Daarna het sy na ‘n veilige plek uit vrees vir dwelmbase gevlug. Volgens mnr X woon hy, sy vrou en sy eie drie kinders nou in Springs en hy werk tans by ‘n fabriek in Nigel.
Lees gerus meer in die Heraut van 13 Augustus.



