
Ella van Zyl het op 12 Januarie die rype ouderdom van 90 jaar bereik.
Tannie Ella, inwoner van Nigel Tuiste vir Bejaardes se verswakte eenheid, het die dag saam met haar seun en kleinkinders gevier.
Sy is gebore en getoë in Lindley, Vrystaat waar haar ouers geboer het. Na die gesin se verhuising na Koppies, het sy haar man Jan-Abraham, ontmoet. Hulle is in 1945 getroud en uit die huwelik is twee dogters en een seun gebore.
Kort na hul troue het hulle na Barkleystraat, Nigel verhuis.
Haar man het haar 14 jaar gelede ontval en sedertdien woon sy in die Tuiste vir Bejaardes.
Sy is ‘n huisvrou van formaat wat lief is vir kook en naaldwerk, veral brei. Haar geliefkoosde stokperdjie was die bak van troukoeke. Sy kan nie meer gereeld brei nie, maar lees graag kookboeke en tydskrifte.
Haar raad aan jongmense is dat hulle vrede moet maak met dinge wat teen hulle gaan, altyd positief moet bly en nie die lewe sonder die Skepper moet probeer leef nie.
“Liefde bly die aller belangrikste, liefde vir mekaar en liefde vir die Here”, het sy gesê.
Tannie Ella het vyf kleinkinders en drie agterkleinkinders.



