Suikerbosrand Natuurreservaat maak weer oop op Jeugdag
Suikerbosrand Natuurreservaat se hekke sal op 16 Junie vir dagbesoekers open.

Goeie nuus vir natuurliefhebbers is dat die Suikerbosrand Natuurreservaat se hekke op 16 Junie weer ná ses maande open. Die reservaat is op 26 Januarie gesluit glo ná ‘n waterpypleiding ingegee het. Dit sal vir eers net vir dagbesoekers oopgestel word. Sodra daar voldoende watertoevoer na die reservaat is, sal dit stelselmatig vir oornagbesoekers oopgestel word. Volgens Roxy du Toit van die Klipriver Suikerboschrand Conservancy is die nuus verblydend en ‘n stap in die regte rigting.
Volgens haar bron is Parkeraad tans besig om die rioolsisteem van die reservaat op te knap waarna die oorblygeriewe weer in werking gestel sal word. Roxy is egter steeds bekommerd oor die merkbare afname in wild in die reservaat wat steeds heftig deur amptenare ontken word.
Die Bokmakierie- en Cheetah staproetes, die museum en Diepkloof piekniekarea sal eerste oopgestel word. Die toeriste- en fietsryroetes sal op ‘n later stadium oopgestel word.



