GEMKOR begin met opruiming langs kanaal
NIGEL - Lede van Nigel Korrektiewe Dienste: gemeenskapskorreksie (Gemkor) het op 20 Augustus moue opgerol en met opruimingswerk langs die kanaal begin.

Die projek behels skoonmaak van die kanaal wat sedert verlede jaar in ‘n haglike toestand verkeer. Ongeveer 25 gevangenes wat onder korrektiewe toesig verkeer, is by die projek wat daarop gemik is om die munisipale gedeeltes langs die kanaal rommelvry te hou, betrek.
Die oogmerk was aanvanklik om erg besoedelde gedeeltes binne die kanaal ook op te ruim, maar weens ‘n gebrek aan gemeenskapsbetrokkenheid en beskermingsdrag vir die parool gevangenes, is dié planne tydelik in die wiele gery.
Volgens DA raadslid Wally Labuschagne, het werkers van Nigel Stadsraad ongeveer twee weke gelede met skraapwerk aan die suidelike deel van die kanaal (voor dit by die Blesbokspruit aansluit) begin. Die masjien het egter onklaar geraak en die werk sal hervat word sodra die masjien herstel is.
Intussen doen Gemkor hulle deel om die kanaal rommelvry te hou. “Ons wil ’n vennootskap met die gemeenskap sluit en nooi die publiek en veral Nigel GPF om by ons aan te sluit, want saam kan ons ‘n groot verskil maak,” het Mnr Eli Pratt namens Gemkor gesê.

Na sowat ‘n uur se opruimingswerk langs die kanaal op 20 Augustus, was daar reeds ‘n bakkievrag rommel deur parool gevangenes bymekaar gemaak. Mnr ET Matabane en Mnr EJL Pratt van Nigel Korrektiewe Dienste: gemeenskapskorreksie het toesig gehou.

Skoonmaak van die kanaal wat deur die dorp vloei gaan baie tyd en mannekrag verg. Gemkor nooi die publiek en veral Nigel GPF om hul gewig by Gemkor se skoonmaakprojek in te gooi, sodat daar saam ‘n verskil gemaak kan word.
Die tweede opruimingsprojek vind in November plaas met bykomende projekte vir aanstaande jaar. Belangstellendes kan Mnr Pratt gedurende kantoorure by 011 814 8138/9 skakel.



