
‘n 35-Jarige ma van Nigel is ernstig in ‘n ongeluk op die N3 net voor die Jacobsstraat-afrit in Heidelberg beseer.
Die ongeluk het omstreeks 14:30 gebeur toe haar Bantam bakkie en ‘n passasiersvoertuig mekaar getref het. Die Bantam het teen ‘n hoë wal opgeëindig.
Heidelberg Medic Volunteers en paramedics van Emer-G-Med was vinnig op die toneel. Volgens Elzona Meyer het die vrou nek, rug en borsbeserings opgedoen. Sy was deurentyd by haar positiewe. Die man in die ander voertuig is nie beseer nie.
Die Emer-G-Med ambulans het haar na die Netcare Union Hospitaal in Alberton vervoer. Emer-G-Med in samewerking met Heidelberg Medic Volunteers en Heidelberg se sekuriteitsmaatskappye poog om ‘n voltydse ambulans van Emer-G-Med in Heidelberg te vestig. Skakel Elzona by 082 496 8317 vir meer inligting. Hou dié spasie dop vir meer inligting.






