3 Beseer in kop-tot-kop botsing
NIGEL - Verkeer in beide rigtings op die Nigel/Springs-pad was op 5 September tot stilstand gedwing ná ‘n kop-tot-kop botsing waarin drie voertuie betrokke was.
Die ongeluk het omstreeks 13:30 plaasgevind.
Volgens ‘n ooggetuie het die bestuurder van ‘n BMW beheer verloor en met ‘n aankomende Toyota Hilux bakkie uit Springs se rigting gebots. Die bestuurder van ‘n Mercedes Benz wat agter die bakkie gery het, het die botsing probeer vermy. Hy het uitgeswaai, maar die bakkie skrams getref en teen ‘n lamppaal gebots. Die bakkie het etlike meters gerol voor dit op sy dak tot stilstand gekom het.
Nigel Metro Polisie, in samewerking met lede van Nigel GPF, het die toneel beveilig en verkeer weggelei.
Drie persone is beseer en die insittendes van die bakkie is deur reddingswerkers verbonde aan Nigel Nooddienste uit die wrak bevry. Hulle is per ambulans na ‘n hospitaal geneem maar HERAUT het verneem dat hulle op 7 September ontslaan is.



