Local newsNews

Evert Snyman se stem het stil geword

Bekende Afrikaanse omroeper, skrywer en akteur oorlede.

Evert Snyman is Vrydag oorlede.

In 2009 het die ATKV hom vereer vir sy volgehoue bevordering van Afrikaans, wat op daardie stadium reeds 33 jaar geduur het.

 

Evert Snyman was vir baie Afrikaanssprekende mense ’n gas in die huis. Hy was ’n bekende omroeper, skrywer en akteur. Talle dramas het hy saam met sy vrou, Mari, geskryf en hy was ook bekend vir sy storiereeks vir die kleingoed, wat oor die wel en weë van Stoffel die Seekoei gehandel het.

 

“Oom Evert” sal ook deur baie kinders onthou word vir Storietyd, die program wat saans op RSG uitgesaai is.

nalibali

 

Benewens sy liefde vir stories, die radio en Afrikaans, was Evert ook ’n kranige motorfietsentoesias en het hieroor ook ’n radiorubriek behartig. “Die man het die lewe geleef,” het Amanda Olivier, ’n toenmalige kollega van Snyman, in ’n onderhoud op Pasella gesê: “Dit word in sy dramas weerspieël,” het sy bygevoeg.

 

Snyman is in 2006 met ’n skaars niersiekte gediagnoseer en moes gereeld dialise ondergaan. In ’n onderhoud met Beeld het hy gesê groot dele van Stoffel se avonture is geskryf terwyl hy vasgekluister was aan die dialisemasjien.

 

Hy is nie net deur die ATKV vereer nie. In 1994 het hy die gesogte Artes-toekenning gekry as Beste Uitsaaier: Radiodienste wat in Engels en Afrikaans uitsaai.

 

Evert Snyman het in 1976 by die Transvaalse Raad vir die Uitvoerende Kunste (TRUK), as akteur begin werk

 

Hy was ’n gereelde akteur in verskillende radiodramas en reekse vir die destydse Afrikaanse Radiodiens en Springbokradio.

 

In 1982 sluit hy hom aan by die Afrikaanse Radiodiens as omroeper en regisseur.

 

Twee jaar later het gaan werk hy by Mimosafilms.

 

In 1984 het hy die vryskutmark betree, maar het in 1987 weer voltyds aangesluit by die SAUK se Afrikaanse Radiodiens as Senior Omroeper/Regisseur.

Luister hier na kort stemopnames van Evert.

 

Snyman het van homself gesê dat hy vinnig kon kwaad word en onder die jong akteurs het hy klaarblyklik die bynaam “Helsbesem” gehad, tog het verskeie van hierdie akteurs hulle lof uitgespreek vir die manier waarop hy hulle loopbane bevorder het.

 

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Heidelberg Nigel Heraut in Google News and Top Stories.

Related Articles

Back to top button