Inwoners ontstoke oor Jordaanpark ontwikkeling
Ontspanningsgebied met stap- en fietsroetes in gedrang

Inwoners van Jordaanpark is ontevrede oor ‘n ontwikkeling van 64 residensiële erwe en drie besigheidserwe wat in Uitbreiding 6 beplan word.
Die beoogde ontwikkeling is reg by die speelparkie op die hoek van Uniestraat en Derdelaan.
Dié parkie en aangrensende klipkoppies is twee jaar gelede deur die inwoners in ‘n ontspanningsarea ontwikkel met 8km stap- en fietsryroetes. Hoewel die parkie uit die ontwikkeling gesluit is, sal die stap- en fietsroetes in die slag bly.
Volgens Willem Sprong (voorsitter: Jordaanpark forum) is die stap- en fietsroetes in drie fases ontwikkel. Jordaanparkers doen moeite om dié ontspanningsarea (wat die parkie insluit) in stand te hou. Sekuriteitskameras, kennisgewingborde (met aanduidings van die afstande en moeilikheidsgraad van elke roete) is op eie onkoste aangebring.
Speelapparaat in die parkie word herstel en onderhou en inwoners het beplan om ‘n trimpark aan te bring. Dit alles sal nou moet wag tot sekerheid oor die ontwikkeling verkry is.
Hoewel die parkie self nie by die ontwikkeling ingesluit is nie, sê Willem dat inwoners veral op naweke van die roetes gebruik maak en in ‘n stil natuurlike omgewing met hul kinders en honde gaan stap en fietsry.
‘n Kennisgewing van die voorgenome ontwikkeling is op 5 Oktober by die parkie aangebring as deel van die publieke deelnameproses. Inwoners kan hulself as belanghebbende partye skriftelik binne 30 dae van kennisgewing registreer.
Inwoners wat hulself as belanghebbende partye wil registreer, kan dit doen deur by Pro Environment Assessment Practitioners by Postnet Suite 15, Privaatsak H607, Heidelberg, 1438 te registreer of skakel 082 562 0569 vir meer besonderhede.
Jordaanparkers wat hul sê oor die voorgenome ontwikkeling wil sê, kan Willem kontak deur ‘n epos na admin@jordaanpark.co.za te stuur.
Sien volledige berig en wat die ontwikkelaars sê in HERAUT van 14 Oktober.




