Noem hom op sy naam, nie sy diagnose
NIGEL/HEIDELBERG - Nasionale Down sindroomdag word op 20 Oktober gehou. Down sindroom word deur ‘n chromosoom-afwyking veroorsaak.
Dit begin by die heel eerste selletjie van die menswordingsproses en is dit belangrik om te begryp dat die sindroom nie veroorsaak word deur enigiets wat die ma tydens die swangerskap gedoen het of nagelaat het om te doen nie. Min mense besef dat daar drie tipes Down sindroom is naamlik Trisomie 21-tipe, Mosaïek tipe en Translokasie tipe. Down sindroom kan op verskillende maniere tydens swangerskap by die fetus (ongebore baba) waargeneem word, maar die teendeel daarvan is ook al bewys.
Kinders met Down sindroom beloon hul ouers vir hul moeite met oulikheid en lieftalligheid en geen ouer sal ontken dat kinders met Down sindroom spesiale behoeftes het nie.
Daarvan kan Nicolene en Carel Arnoldi van Nigel getuig. Hul tweejarige seun Riaan is op ses weke met Trisomie 21-tipe Down sindroom gediagnoseer. Sy ouers het sedertdien alles in die stryd gewerp om hom te ondersteun sodat hy sy volle potensiaal kan bereik. Nicolene het selfs in April verlede jaar ‘n kursus by ‘n Amerikaanse instituut bygewoon. The Institute for the achievement of human potential maak daarop aanspraak dat meer gevorderde breinontwikkelling soos die praktiese toepassing van ‘n daaglikse funksionele program, Down sindroom-kinders onder ses jaar kan help om hul volle potensiaal te bereik.
“Ek het die instituut se riglyne toegepas in sy dag-tot-dag lewe, maar effens aangepas omdat die program veeleisend is. Dit is vir my belangrik om die kindwees te behou en te sorg dat hy speel, omval en alles op sy eie leer. Hy is gesond en gelukkig en ‘n gelukkige kind leer maklik,” het Nicolene gesê.
Riaan ontvang weekliks die volgende terapie: fisio vir spierbou, biokinetiese perdry terapie vir selfvertroue en motoriese ontwikkeling, voeding- en spraakterapie (weens die feit dat hy nog babakos eet) en spelterapie. Volgens Nicolene praat Riaan op ‘n manier wat hulle kan verstaan en hy het op 1 Oktober begin loop. “Daardie nege treë was vir ons ‘n groot mylpaal, ons het elke een getel.”
Sekere aspekte rondom Riaan se diagnose is vir die Arnoldi-gesin ‘n alledaagse hindernis soos mense wat na Riaan as “’n Downsie” verwys. “Dit dui op algemene oningeligtheid en arrogansie,” het Nicolene verduidelik terwyl sy na ‘n aanhaling uit die Down sindroom ondersteuningsgroep verwys het “Call me by my name, not my diagnosis.” Nicolene voel sterk daaroor dat haar kind se diagnose hom nie definieer nie en dat sommige mense bloot net onkundig is.



