Local newsNewsUpdate

Plaaslike studente praat oor #Feesmustfall veldtog

Vandag merk die negende dag van die “fees must fall” veldtog en duisende studente en universiteitspersoneel het na die Uniegebou in Pretoria opgemars vir ‘n ontmoeting met die staatspresident, Mnr Jacob Zuma.

 

Plaaslike ouers van universiteitstudente sê hulle is bekommerd oor hul kinders in die lig van die studiegeld betogings wat verlede Vrydag ‘n hoogtepunt by die Uniegeboue bereik het. Hulle sê dit is kommerwekkend dat eksamendatums met ‘n week uitgestel is, dit terwyl meeste studente reeds vakansieplanne gemaak het en in sommige gevalle bus- en vliegkaartjies gekoop het.

Studente van oor die land het die afgelope twee weke betoog oor die verhoging van studiegeld en op 23 Oktober het studente by die Uniegebou saamgedrom in afwagting op die uitslag van samesprekings tussen universiteitshoofde, studenteleiers en President Jacob Zuma.
Chaos het uitgebreek toe studente oproerig begin raak het en die polisie skokgranate moes gebruik om hulle onder beheer te bring. President Zuma het laatmiddag aangekondig dat universiteitsgelde nie vir die volgende jaar verhoog sal word nie. Betogers was egter steeds boos omdat hy dié nuus nie eerstehands aan hulle oorgedra het nie.

Plaaslike ouers wie se kinders studente aan die Universiteit van Potchefstroom is, sê hulle was beangs toe die universiteit op 23 Oktober om 03:00 ‘n sms uitgestuur het wat sê dat dit om veiligheidsredes vir die dag gesluit sou wees.
Baie van dié studente het egter besluit om nie huis toe te kom nie aangesien die meeste op 26 Oktober met eksamens sou begin. Die universiteit het egter oor die naweek laat weet dat eksamens met ‘n week uitgestel word. Sanet Strydom en Driena Spykerman se dogters het gesê dat die betogings nie te erg op die PUKKE se kampus was nie. ‘n Klompie betogers het wel by die hoofhek saamgedrom, maar die polisie en sekuriteit was sterk teenwoordig.

Elani Kleynhans van Nigel
Elani Kleynhans van Nigel

Elani Kleynhans van Nigel is ‘n derdejaar student aan die Universiteit van Johannesburg (UJ) en het aan Heraut gesê dat oproerigheid by dié universiteit in die begin aansienlik rustiger was in vergelyking met ander. Die universiteit het eers op 22 Oktober weens die oproerigheid gesluit en daar was ‘n sterk polisie teenwoordigheid. Die skryf van finale eksamenvraestelle is tot volgende week uitgestel en volgens Elani . “Ons was besig met eksamen toe ‘n groep protesterende studente die kampus met ‘n groot geraas betree het. Die lawaai het ons konsentrasie afgetrek en ons kon nie verder skryf nie. Die ervaring was taamlik vreesaanjaend en vir ons eie veiligheid is daar voorgestel dat ons na die oproerigheid terugkeer,” het sy gesê.

IMG-20151023-WA0004

“Die NWU Pukke kampus het eers eintlik vanoggend begin “strike” oor die #feesmustfall.. Ons eintlike rede vir die oproer op Potch gaan meestal oor die Afrikaans wat hulle wil wegvat en die Totius standbeeld wat hulle wil hê moet afgehaal word. Om veiligheidsredes is die kampus gesluit en ons het teruggekeer huis toe.,” het Deoné Arnoldi van Nigel gesê.

Zanel van Oudtshoorn studeer eerstejaar Wiskunde Statistiek aan die Universiteit van Pretoria (TUKS). “Die #Feesmustfall veldtog het landwyd sowel as oorsee groot ondersteuning onder studente geniet. Persoonlik ondersteun ek die veldtog, hoewel ek nie aan die demonstrasies deelgeneem het nie en eintlik was die TUKS-kampus baie rustig. Daar was geen geweld of dreigende gevaar nie en die studente is vroegtydig gewaarsku. Ons eksamen begin in elk geval eers later in November en die staking het dus weinig invloed op dié universiteit en sy studente.”
Zanel van Oudtshoorn studeer eerstejaar Wiskunde Statistiek aan die Universiteit van Pretoria (TUKS). “Die #Feesmustfall veldtog het landwyd sowel as oorsee groot ondersteuning onder studente geniet. Persoonlik ondersteun ek die veldtog, hoewel ek nie aan die demonstrasies deelgeneem het nie en eintlik was die TUKS-kampus baie rustig. Daar was geen geweld of dreigende gevaar nie en die studente is vroegtydig gewaarsku. Ons eksamen begin in elk geval eers later in November en die staking het dus weinig invloed op dié universiteit en sy studente.”

NIGEL – Deoné Arnoldi (derdejaarstudent by NWU Pukke), Hanri Arnoldi (eerstejaarstudent by NWU Pukke), Heidi Marx (vierdejaarstudent by TUKS) en Derik van Oudtshoorn (eerstejaar by TUKS). Hulle is dit eens dat studente wat hierdie week eksamen moes geskryf het, die slegste daaraan toe is aangesien hulle voorbereid was. “Wat my meer bekommer is die feit dat die oproerige studente hierdie keer hul sin gekry het en die fooie het geval, maar wat is volgende? Wat gaan volgende brand of in die slag bly en waaroor gaan hulle dan betoog?” het Deoné gesê.

 

Nicolette van Huyssteen (24) is ‘n nagraadse student van Unisa. Sy is bang dat betogende studente sal probeer verhoed dat Unisa studente hul vraestelle skryf. Studente het inderdaad Vrydag verskillende lokale in Durban bestorm en verhoed dat studente eksamen skryf.
Frederick Botha, wat ‘n Afrikaanse dosent aan die Universiteit van Johannesburg is, sê dat ook dié universiteit Vrydag as voorsorgmaatreël gesluit was. Hy sê betogings was nie te erg by dié instelling nie. Studente het Donderdag vreedsaam deur die strate geloop en sing, maar alle ingange is as voorsorgmaatreël gesluit.
Maune Snyman studeer in Bloemfontein en sê die universiteit het ook die eksamendatums met ‘n week aangeskuif. Sy sê betogende studente was nie gewelddadig nie en dat die universiteit alles in hul vermoë doen om die studente se veiligheid te verseker.
Die Universiteit van Pretoria het ook hul eksamendatums uitgestel. ‘n Plaaslike student aan dié universiteit het egter die besluit verwelkom omdat dit hom meer tyd bied om vir die eksamen voor te berei.
Intussen het Wits studente ‘n dringende vergadering oor die naweek ná President Zuma se aankondiging belê. Sommige studente staan die algehele afstelling van universiteitsgelde voor, terwyl finalejaar studente ‘n aanlyn petisie begin het dat die betogings afgelas word sodat hulle die eindeksamen in vrede kan skryf.
Wits en die Noordwes Universiteit se Mafikeng-kampus was Maandag (26 Oktober) steeds gesluit.

HERAUT hoor graag van ander studente wat in Nigel en Heidelberg omgewing woon. Hoe is die ervaring by TUKS? Stuur vir ons fotos:

Kontak ons joernaliste:

 

 

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Heidelberg Nigel Heraut in Google News and Top Stories.

Magda Maritz

News editor and journalist for HERAUT newspaper. 'Read what you like and like what you read' is my motto.

Related Articles

Back to top button