Groot rugbygeesdriftige se stem is stil
NIGEL - Die liggaam van 67-jarige Clive St James is op 11 November op ‘n bed in sy woonstel gevind.
Dit is nog nie duidelik wat die oorsaak van sy dood was nie, maar volgens polisiewoordvoerder A/O Madeleine von Wielligh, word geen gemene spel vermoed nie.
Clive het homself sowat 20 jaar gelede in Nigel gevestig en was die laaste tyd ‘n inwoner van Noycedale Munisipale Woonstelle. Hy is op 8 November die laaste keer lewend gesien. Sy aangrensende bure het onraad vermoed toe ‘n slegte reuk hul woonstel binnegedring het. By ondersoek het hulle Clive se ontbinde liggaam op die bed gevind.
Volgens sy vrou Wilma, het Clive vermoedelik weens ‘n beroerte gesterf aangesien hy ‘n vorige aanval oorleef het en onlangs deur ‘n plaaslike geneesheer gemaan is om behandeling te ontvang.
Clive was bekend as rugbygeesdriftige en het graag geselsies aangeknoop. Vir tydverdryf het hy antieke lampe restoureer, maar as trotse ondersteuner was sy gunsteling onderwerp WP-rugby. Oor die jare het hy menige siel oor dié befaamde sport uitgetrek. Hy laat sy vrou Wilma, twee seuns en dogter agter. ‘n Roudiens vind op 20 November om 10:00 by die Rooms Katolieke Kerk plaas.



