Diewe kom weg met R6000 se sigarette na besigheidsinbraak
NIGEL - Sigarette ter waarde van ongeveer R6000 is tydens ‘n inbraak by die 6-9 Kafee in Rhodeslaan buitgemaak.

Die inbraak het in die vroeë oggendure van 17 November plaasgevind en hoewel die sekuriteitsmaatskappy binne vyf minute by die perseel opgedaag het, was daar geen teken van die diewe nie.
Volgens winkeleienaar Johan van Rensburg, het die diewe ‘n blikskêr gebruik om die sinkplaat op die dak oop te sny, waarna hulle ‘n gat in die plafon gebreek het om toegang tot die winkel te kry. Dit is die tweede keer dat dieselfde modus operandi gebruik is om sigarette by die winkel te steel.
Hoewel vingerafdrukke geen positiewe identiteit opgelewer het nie, ondersoek die polisie twee verdagtes in die omgewing. Volgens polisiewoordvoerder A/O Madeleine von Wielligh, het die eienaar ‘n saak van inbraak en diefstal rapporteer en word dit ondersoek.





