Kinderhuis word opgeknap
NIGEL - Plaaslike sakemanne en lede van Nigel GPF het 2016 met ‘n gemeenskapsprojek by die Umephi Villa Liberi Kinderhuis afgeskop.

Die nie-winsgewende organisasie word as kinderhuis deur Ebbie Prins bestuur en huisves altesaam 10 kinders tussen die ouderdomme van ses en 18 jaar.

Die moue is vroegdag op 4 Januarie opgerol en daar is eers met afskilfering begin, voor die verfkwaste ingespan is. Mannekrag is deur Nigel GPF voorsien en Frans Claassens van Fat Boy Engineering het nie alleenlik ‘n ruim finansiële skenking gemaak nie, maar het self gehelp skuur, skaaf en verf om te verseker dat elke kinderkamer aan die einde van die projek met ‘n nuwe laag verf spog.

Besigheidsmanne soos Sean Manson van Golden Buffalo Spur het ‘n aantal verfpanne en kwaste, verf asook middagete vir die span geskenk, terwyl Blackie Volschenk van U-Build Nigel nog verf voorsien het. Dit sal later aangewend word om ander vertrekke van die kinderhuis op te knap.
Ebbie het haar dankbaarheid teenoor Nigel GPF en die betrokke besighede uitgespreek.

Plaaslike besigheidsmanne en lede van Nigel GPF het 2016 met ‘n gemeenskapsprojek by die Umephi Villa Liberi Kinderhuis afgeskop. Elke kamer is met ‘n nuwe laag verf opgeknap.




