Local newsNewsSponsored

Taaldebat – dis oorlog by Tuks

PRETORIA - AfriForum Jeug het vandag voorwaardes vir vrede rondom die taaldebat by die Universiteit van Pretoria (UP) gestel. Met dié voorwaardes wil AfriForum Jeug graag sien dat akademie so gou as moontlik hervat word en dat Afrikaans erken, gerespekteer en beskerm sal word.

AfriForum Jeug het die volgende berig op hul webblad geplaas – ons verneem graag hoe HERAUT lesers voel

Skermutselings op kampus is besig om al ernstiger te raak, en die universiteitsbestuur is weens hul traag optrede aan dié disfunksionaliteit aandadig. AfriForum Jeug is egter van mening dat daar ’n sterk moontlikheid op bedaring bestaan, mits daar aan die volgende ses voorwaardes voldoen word:

  1. Die universiteit moet Afrikaans beskerm en verskans. Dit beteken dat hulle die dekadelange onderneming moet handhaaf om ’n aantal kernkursusse in Afrikaans te verseker. Die universiteit moet ook genoegsame ondersteuning aan daardie studente verleen en toelaat dat ’n gesonde Afrikaanse studentelewe vir Afrikaanse studente volhou word. Hierdie standpunt word binne konteks van meertaligheid gehandhaaf, en Sepedi en ander Afrikatale moet dus dieselfde aandag geniet. As Afrikaans geskrap sou word, het Sepedi en ander Afrikatale geen kans meer om te oorleef nie.
  1. Die EFF se aanvalle op Afrikaanse studente moet stopgesit word. Indien dit nié gebeur nie en die universiteit nie in staat is om hierdie geweld te verhoed nie, sal AfriForum Jeug aanhou om te mobiliseer en studente te beskerm. Die universiteit kan dié proses begin deur oproerige EFF-studente te skors en geen betogings meer op die kampus toe te laat nie.
  1. Die universiteit kan nie langer gesluit bly nie. Die UP is ’n akademiese instelling wat moet verseker dat studente wel daar kan studeer. Indien die universiteit klasse verder gaan kanselleer, sal studente te ver agterraak. Dít kan die universiteit eenvoudig nie bekostig nie.
  1. Die Universiteit moet doeltreffende programme loods om alle verdienstelike arm studente met verblyf te ondersteun. Studente wat dit verdien om aan UP te studeer, móét hier kan studeer. Sonder akkommodasie word hulle van dié geleentheid ontneem. Dit bly die regering en die universiteit se verantwoordelikheid, en AfriForum Jeug sal enige student – wit óf swart – se verblyfreg help aanvoer. Verdienstelike studente wat voedselhulp benodig, moet dit ook kry. Geen student kan op ’n honger maag studeer nie en dit is die universiteit se plig om dié studente by te staan.
  1. Daar moet ook genoegsame beurse bestaan om verdienstelike arm studente in staat te stel om te kan studeer.
  1. AfriForum Jeug wil sien dat UP as ’n Afrikaanse, Sepedi en Engelse universiteit funksioneer. Die Grondwet maak daarvoor voorsiening, en indien hierdie reg nie verdedig word nie, kan dit negatiewe gevolge vir die res van die minderheidsregte in die Grondwet inlui. AfriForum Jeug staan simpatiek teenoor studente wat swaarkry en wat sekere ander spesifieke behoeftes het – Afrikaans is egter nie die vyand nie en daar hoef dus nie teen Afrikaans ’n veldtog gevoer word om dié behoeftes aan te spreek nie.

“Ons kan nie verder toekyk hoe sekere studentegroepe rassisme en haatspraak teenoor ons voer en ander studente se veiligheid bedreig nie. Ons wil graag sien dat alle studente in vrede kan studeer, maar daardie vrede beteken dat Afrikaans ook ʼn plek moet hê op kampus sowel as enige ander taal.  Dit is prakties moontlik en volhoubaar om Afrikaans op universiteit te beskerm. Die universiteit het ons in die verlede – en by name prof. Nick Grove – telkens daardie onderneming gegee,” het Ian Cameron, AfriForum Jeug se nasionale woordvoerder, gesê.

TUKS3 (Custom) TUKS (Custom)

AfriForum Jeug nooi alle studente om môre, 24 Februarie 2016 om 12:00 op die grasperk voor die Aula bymekaar te kom om ’n vreedsame samekoms te hou.

Besoek ook AfriForum Jeug se webblad:

Gesels saam. Stuur vir ons ‘n epos na newsnigel.heraut@lantic.net

 

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Heidelberg Nigel Heraut in Google News and Top Stories.

Magda Maritz

News editor and journalist for HERAUT newspaper. 'Read what you like and like what you read' is my motto.

Related Articles

Back to top button