Oud-Vossie hou Nigel se naam hoog
NIGEL - Tiaan Liebenberg (23) wat in 2010 aan Hoërskool John Vorster matrikuleer het, het in 2014 ‘n graad in BCom Regte aan die Universiteit van Noord-Wes in Potchefstroom behaal.

Hy het ook die nagraadse LLB-graadkursus met lof geslaag en op 26 Februarie ‘n meriete medalje vir akademiese prestasie by die universiteit ontvang. Tiaan is as een van die universiteit se top 3 regstudente aangewys en is ook onlangs ‘n beurs aangebied om sy Meestersgraad deeltyds oor die volgende twee jaar te voltooi.
Gedurende die tydperk 2013 tot 2015, het Tiaan driekeer ‘n internasionale toekenning van The Golden Key Institute – Honour Society vir akademiese prestasie ontvang. Gedurende 2014 het hy ‘n akademiese meriete sertifikaat van die universiteit se regsfakulteit ontvang, aangesien sy gemiddelde prestasie deurlopend hoër as 75% was.
Tiaan het gedurende Desember as kandidaat prokureur by die Prokureursorde van Transvaal geregistreer en verlede maand as leerlingklerk by Chris Liebenberg Prokureurs begin werk.



