Victor Aquantum swemmers bring medaljes huis toe
Jandré Moll weér vinnigste in sy ouderdomsgroep in land.

Swemmers van Victor Aquantum Swemklub onder afrigting van Thilde Victor-De Kock en Pieters de Kock het die afgelope vakansie tydens verskillende byeenkomste uitgeblink.
Jandré Moll is die top 15-jarige 50m en 100m vryslagswemmer in die land nadat hy goue medaljes by die Suid-Afrikaanse (vlak 3) nasionale ouderdomsgroep kampioenskappe wat van 18 tot 22 Maart in Port Elizabeth aangebied is, verower het.
Thilde Victor-De Kock en Sarel Naudé het van 16 tot 19 Maart aan die Suid-Afrikaanse meesters kampioenskappe in Durban deelgeneem. Thilde het drie goue- en een brons medalje in die 30- tot 34 jaar ouderdomsgroep vir vroue verower. Sy het ook die Dash for Cash vir vroue onder 50 jaar gewen. Sarel het twee brons medaljes in die 400m- en 800m vryslag vir mans tussen 75- en 79 jaar gewen.
Christopher Strydom is die vinnigste negejarige in die noordelike streek (Gauteng, Limpopo en Noord-Wes) in 100m rugslag nadat hy aan die Suid-Afrikaanse (vlak 1) streek ouderdomsgroep kampioenskappe van 1 tot 3 April in Germiston deelgeneem het. Christopher het sy eie tye in al die items waaraan hy deelgeneem het, verbeter.
Chloë Barnard, Altus van Niekerk en Fabio Pellizzon het hul beste tye tydens die Suid-Afrikaanse (vlak 2) streeks ouderdomsgroep kampioenskappe van 28 tot 31 Maart in Ellispark opgestel.




