Buitegebou van huis slaan byna aan brand
Huisbewoner sit onbewus van brand op haar voorstoep.

Steven de Clerk, provinsiale verkeersbeampte het om 14:30 vanmiddag rook in Schoemanstraat sien trek en gaan ondersoek instel. Hy het groot vlamme in die agterplaas van Schoemanstraat 2 gesien.
Die vrou van die huis het op haar voorstoep gesit, salig onbewus van wat aangaan. Steven het haar van die brand in kennis gestel en die brandweer is geskakel.
Steven en van die bure het solank met tuinslange ingespring om die vlamme, wat in ‘n groot hoop rommel ontstaan het onder beheer te bring. ‘n Groot boom het toe reeds vlam gevat en die bure het gevrees dat hulle grasdak daar naby aan die brand sou slaan.
Volgens die brandweermanne het hulle aanvanklik die verkeerde straatadres ontvang en dit het hulle ‘n ruk geneem voor hulle die huis opgespoor het. Hulle het egter seker gemaak dat niks van die rommel nog smeul voor hulle vertrek het nie.




