CrimeNews

Heidelberg boer vyf stoetkoeie kwyt

Veediewe slag boer se dragtige stoetkoeie ter waarde van R150 000

Kaptein Johan Crawford van die Vaalrand Veediefstaleenheid by die voertuig wat deur die veediewe gebruik is.

‘n Boer van die Schickfontein-omgewing buite Heidelberg het groot skade gely toe veediewe vyf van sy top stoetkoeie gesteel en geslag het. Boonop was die koeie almal dragtig wat die totale waarde op ongeveer R150 000 te staan bring.

“Dit is egter nie die finansiële verlies wat vir my die ergste is nie, maar ek het daardie koeie as klein kalwers met liefde grootgemaak. Ek is stukkend,” het die boer moedeloos ná die voorval aan lede van die Veediefstaleenheid van Vaalrand gesê.

Die boer is gister omstreeks 04:00 deur plaaswerkers wakker gebel wat hom gewaarsku het dat daar ‘n verdagte voertuig opgemerk is. By nadere ondersoek is op ‘n bakkie met die geslagte koeie afgekom. Die oortreders het weggehardloop.

Oplettende lede van Ratanda polisie het egter ‘n verdagte man langs die R42-pad opgemerk en hom ondervra. Hy is positief met die diefstal verbind en in hegtenis geneem.

 

 

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
Stay in the know. Download the Caxton Local News Network App here.

Related Articles

Back to top button