CrimeNews

Gebedskringe suis vir 17-jarige se oorlewing

“Ek sê nie my kind is ‘n engeltjie nie, maar dit was nie nodig om hom en sy maat tot in die hospitaal te slaan nie." - Abelia Coetzer nadat haar seun en sy vriend aangerand is.

‘n 17-Jarige seun is in ‘n koma en veg om sy lewe terwyl sy 19-jarige vriend Migael Coetzer (foto bo) se nier beskadig  is nadat die twee deur die eienaar van ‘n huis wat hulle na bewering besig was om te besteel, betrap, met elektriese koorde vasegebind en aangerand is.

Die voorval het op 10 April om­streeks 11:30 in Tweedestraat, Spaar­water gebeur.

Bouers wat deur die eienaar aangestel is om verbeteringe aan die huis aan te bring, is deur die twee jong manne gekonfronteer en gevra wat hulle daar soek.

Die twee het aan die bouers gesê dat hulle deur die eie­naar gestuur is om die warm­wa­tertoestel te verwyder.

Hier­op het een van die bouers besluit om eerder die eienaar te skakel.

Die 17-jarge jong man wat vasgebind en geslaan is word bygestaan.

Die huiseienaar en sy hand­lan­gers het na bewering na die perseel gejaag waar hulle vir Coetzer en sy vriend binne in die huis se plafon betrap het.

Die huis word blykbaar sedert De­sember gestroop en die eienaar het lank gesukkel om die diewe vas te trek. ‘n Betroubare bron het laat blyk dat die betrokke jong manne aan voor­valle van geringe misdaad in die omge­wing ge­koppel word.

Migael se ma Abelia sê haar seun het by sy pa in Spaarwater gekuier. Sy weer­gawe van die gebeure is dat hy en sy vriend paddas by ‘n dam­me­tjie op die betrokke perseel wou gaan vang.  Hier het ‘n groep kinders hulle gevra waar die pomp is. Die seuns het gesê dat hulle niks van ‘n pomp weet nie, waarna die kinders die volwassenes (wat op die perseel woon) gaan roep het.

Volgens die seuns het die groep al gillend op hulle afgestorm en hulle het toe in die huis gaan wegkruip.

“Migael het in die plafon wegge­kruip, maar sy maat kon nie weg­kom nie en is vasgebind en met pype en grawe geslaan. Hulle het toe vir Migael beveel om uit die ­plafon te klim en het hom ook ge­slaan. Hy het terugbaklei,” het Abelia vertel.

Volgens die bouers op die per­seel, is altwee die jong manne in die plafon betrap waar hulle besig was om die warm­wa­tertoestel uit te haal.

Mediese personeel van Emer-G-Med verleen hulp op die toneel.

Toe die twee die groep gewaar, het hulle na  bewering uitgespring en met gereedskap op die eienaar toegesak waar­na die geveg uitgebreek het.

Merke aan Coetzer se nek en keel kan daarop dui dat hy ook tydens die bakleiery gewurg is. Daar word verder beweer dat die aanvallers ‘n tou om sy nek gebind het waarmee hulle hom agter die bakkie wou sleep.

Die hulp van Heidelberg polisie en paramedici is deur plaaslike GPF ingeroep.

Die slagoffers is na die  Thelle Mogoerane Hospitaal geneem waar Migael in ‘n ernstige toestand verkeer. Die 17-jarige het bloeding op die brein en is in ‘n koma. Sy ma waak langs sy bed.

“Ek sê nie my kind is ‘n engeltjie nie, maar dit was nie nodig om hom en sy maat tot in die hospitaal te slaan nie. My hart is stukkend. Daai twee seuns het baie seergekry,” het Abelia gesê.

Volgens Heidelberg Polisie wou nie een van die betrokke partye sake van huis­braak of aanranding aanhangig maak nie.

HERAUT het intussen verneem dat die aanval ook nie in die stasie se Voorvalle Boek (VB) deur Sersant Mashuma (wat op die toneel was) aangeteken is nie.

Heidelberg SAPD kon nogsteeds nie ‘n VB nommer (Incident Report number) aan Heidelberg GPF vir hul rekord doeleindes voorsien nie.

 

‘n Ysterpyp en graaf is gebruik om die minderjarige slagoffer te slaan terwyl sy hande en voete vasgebind is.

 

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
Stay in the know. Download the Caxton Local News Network App here.

Related Articles

Back to top button