Watertoetse in Blesbokspruit wek kommer
HEIDELBERG/NIGEL - AfriForum het ‘n riooluitlaat in die Blesbokspruit in Springs op 19 Oktober getoets om die gehalte van dié dorp se rioolwater te bepaal en die resultate het hoë E.coli vlakke opgelewer.
HEIDELBERG/NIGEL – AfriForum het ‘n riooluitlaat in die Blesbokspruit in Springs op 19 Oktober getoets om die gehalte van dié dorp se rioolwater te bepaal en die resultate het hoë E.coli vlakke opgelewer.
Volgens AfriForum se distrikskoördineerder vir die Oos-Rand Marie Naude, het die Springs-tak van AfriForum SANAS-geakkrediteerde watertoetse uitgevoer, nadat lede uit die gemeenskap herhaaldelik oor ‘n onuithoudbare stank wat uit die Blesbokspruit opwalm, gekla het.
“Ons het vasgestel dat die rioolwater nie aan die minimum vereistes voldoen nie. Die water het positief getoets vir fekale kolivormige bakterieë, E.coli, nitrate en fosfate, waarvan die konsentrasies nie binne gestelde standaarde val nie,” het Naude gesê en bygevoeg dat AfriForum op 29 Oktober ’n brief aan die stadsbestuurder van die Ekurhuleni Metroraad in Springs gerig het, waarin hulle eis dat die probleem binne 48 uur opgelos word.

Opvolgmonsters wat op 7 November deur Willem Sprong (voorsitter van Heidelberg AfriForum) by die Blesbokspruit tussen Nigel en Heidelberg geneem is, toon normale fosfaat- en nitraattellings, maar wek kommer oor die aanwesigheid van bakterieë. Sprong het benadruk dat die hoeveelheid bakterieë in die water nie aan die minimum vereistes voldoen nie en dat plaaslike owerhede sterker op afvalwater van rioolaanlegte moet fokus.
“Ons kan nie toelaat dat waterbronne besoedel word nie en daarom is dit belangrik om op te tree,” het Sprong gesê.
Hy het inwoners verseker dat Nigel en Heidelberg se drinkwater heeltemal veilig en geskik is vir menslike gebruik en dat die gehalte daarvan gereeld getoets word.
Volg ons op:



