Ralie onder top 10 in die wêreld
Om die hoogste vlak in wêreld liggaamsbou as sport te bereik, is ‘n prestasie wat min beskore is.
Ralie Kapp (28) het aan die Physical Culture Association (PCA) World Championships op 28 Oktober in Birmingham, Engeland in die afdeling ‘toned bikini’ onder 163cm deelgeneem. Sy het in die top 10 geëindig.
Onder baie koue weerstoestande het meer as 1 000 deelnemers om die wêreldtitels meegeding. Op die vroue-verhoog moes Ralie teen 63 ander meeding.
Ralie sê dat sy nou beplan om ander dames af te rig. Sy het ‘n passie om mense te help en om meer jong vroue te inspireer om beter na hulself asook hul liggame te kyk.
“Dit laat mens goed voel oor jouself en jy bou meer selfvertroue op,” sê Ralie. Sy het vier jaar gelede met liggaamsbou begin.
“As daar een ding is wat ek geleer het, is dit dat die liggaam in staat is om enigiets te doen. Mens moet jouself geestelik oortuig, en hierdie kombinasie van motivering met fisiese oefening maak dat jou drome bewaarheid word,” het Ralie vertel.
Volg ons op:



