Oud-Volkie pronk op internasionale glanstydskrif
Nie net is hy ‘n Suid-Afrikaner wat in Dubai woon en werk nie, maar Hoogenboezem is ook ‘n oud-Volkie (Laer Volkskool).
HEIDELBERG – Menige man kan net daarvan droom om op die voorblad van ‘n gesogte internasionale glanstydskrif te verskyn, maar vir Hendrik Hoogenboezem het dié droom in Oktober ‘n realiteit geword toe hy nie een keer nie, maar reeds driekeer as voorbladmodel vir Men’s Health gekies is.
Nie net is hy ‘n Suid-Afrikaner wat in Dubai woon en werk nie, maar Hoogenboezem is ook ‘n oud-Volkie (Laer Volkskool). Hy was in Graad 9 by Hoër Volkskool toe sy ouers na Pretoria verhuis het.
Hoewel hy ná matriek Onderwys studeer het, wou hy graag sy loopbaan by die bekende motorhandelaar BMW voortsit en het tydens ‘n elektroniese onderhoud met HERAUT erken dat dit ‘n moeilike tyd in sy lewe was, veral toe die handelaar in Johannesburg waar hy gewerk het, sy deure weens finansiële komplikasies gesluit het.
“Ek het eintlik eers besef dat ek in die fiksheidsbedryf hoort toe ek een aand saam met ‘n groep mense in ‘n gimnasium geoefen het en hulle my gevra het om hulle met ‘n fiksheidsprogram te help. Die groep se getalle het spoedig gegroei en voor ek my oë kon uitvee, was ek ‘n instrukteur,” het hy vertel.
Nadat hy by ‘n vriend gehoor het van ‘n fiksheidsentrum in Dubai, het Hoogenboezem in Julie 2017 met lae verwagtinge dat hy ‘n internasionale fiksheidinstrukteurspos sou losslaan, per e-pos aansoek gedoen.
“Skaars twee maande later bevind ek myself sak en pak in Dubai waar die pos by Bare Fitness aan my toegeken is. My eerste werksdag was op 3 September 2017 en sedert my aankoms 14 maande gelede, het ek op die voorblad van drie ander lande se Men’s Health tydskrifte verskyn. Ek werk hard en is trots op wat ek tot dusver bereik het, maar ek is dankbaar vir elke geleentheid en elke seëning op my lewenspad omdat drome nie in yster gegiet is nie.”

Op die vraag wat hy die meeste van sy geboorteland mis, het die patriot in Hoogenboezem na vore getree. “Daar is baie wat ek mis, veral Saterdae se rugbyvertonings op televisie en kuiers om vleisbraaivure, die reën en groenigheid van Suid-Afrika en natuurlik my familie en vriende.“
Wanneer hy nie bedags as fiksheidsinstrukteur werk nie, kuier hy graag saam met sy ‘vriende van die Midde-Ooste’ en verklap dat hy onlangs ‘n Suid-Afrikaanse meisie daar ontmoet het. Volgens Hoogenboezem is Dubai ‘n mekka van bedrywighede – nie net vir die land se inwoners nie, maar ook vir buitelandse toeriste. Hy en sy vriende het juis die blitsbokke tydens hul besoek aan Dubai vir die Wêreld Rugby Sewestoernooi op 30 November ondersteun.
Volg ons op:



