Met omgewingsbewustheid as tema, het Nigel VLU-tak se lede op kwelpunte en potensiële rampe in hul pragtige dorp tydens hul onlangse byeenkoms gefokus.
Die tak het vir Wollaston Labuschagne (DA raadslid vir Ekurhuleni) as spreker na hul vergadering wat op 14 Maart by die Nigel-Oos NG Kerkterrein plaasgevind het, genooi om meer oor Nigel se bedreigings ten opsigte van die omgewing te kom vertel.
Labuschagne het ‘n paar bekommernisse aangeraak, waaronder die stormwaterkanaal wat groot reaksie uitgelok het. Behalwe dat dit ‘n seeroog in die middel van die dorp is, gaan dit derduisende rande kos om te herstel. Hy het ook onwettige storting (waaraan baie inwoners hulself skuldig maak) uitgewys en vervalle geboue wat lankal nie meer aandag kry nie, is ook bespreek. Alhoewel almal bekommerd oor die omgewing en die nadele van besoedeling is, het Labuschagne die lede gerusgestel en gesê dat die munisipaliteit wel aan probleemareas aandag gee.
Also read -> Nigel VLU-lede leer meer oor ekostene
Nog ‘n hoogtepunt tydens die byeenkoms was terugvoering oor die tak se suksesse tydens die onlangse konferensie wat in Kempton Park plaasgevind het. Nigel-tak is weer as algehele wenner in hul streek aangewys.
Lede het hierna vir Suzanne Drotsky bedank vir die termyn wat sy as vise-voorsitter gedien het en tydens ‘n verkiesingsproses is Anna-Marie Axer as die nuwe vise-voorsitter aangewys.
Die dames het die vergadering aan hul geliefde lid Desiree Human, wat in Februarie oorlede is, opgedra. Ronel Lombaard het ‘n pragtige huldeblyk oor Desiree gelewer wat vir 57 jaar lid van die tak was.
Also read -> VLU goeiehoop gerat vir 2019
Na afloop van die vergadering het die dames heerlik gekuier en gesmul aan die eetgoed wat Tonien Botha (gasvrou) en haar helpers voorgesit het.
Die tak se volgende vergadering sal op 11 April plaasvind en belangstellendes kan 082 886 2002 vir meer inligting skakel.
| Follow us on: | ||
![]() |




