Local newsNews

Legende van Heidelberg oorlede

Hy het verlede jaar in Mei skielik gesukkel om te sluk en ná vele ondersoeke is slukdermkanker vroeg vanjaar by hom gediagnoseer.

Ernst du Preez (73), ‘n groot gees wat diep spore in Heidelberg getrap het, is Sondagaand (2 Junie) oorlede nadat hy vroeg vanjaar met slukdermkanker gediagnoseer is.

 

“Ernst se boek is toegemaak. Hy het sag heengegaan en ek gun hom die rus na al sy siekte en pyn van baie jare,” het sy vrou Martie aan HERAUT gesê.

 
Ernst was vir ses jaar burgemeester van Heidelberg en het 23 jaar op die raad gedien voor hy in 1994 uitgetree het. Hy het in dié tydperk twee raadsheer toekennings van die destydse stadsraad ontvang.

 
Hy was vir jare adjunk-superintendent van die destydse AG Visser Hospitaal (Heidelberg Hospitaal) en het onder andere die laaste jare van sy leeftyd aan memorabilia van Nelson Mandela gewy. Dié geliefde oud-staatsman het Ernst na aan die hart gelê en in 2001 het hy die eerste gedrukte sertifikaat (ten bate van die Nelson Mandela Kinderfonds) met ‘n foto van Mnr Mandela saam met ‘n paar kinders daarop, persoonlik aan Mnr Mandela oorhandig. Dié gebaar het Mnr Mandela diep geraak.

 
Dit was Ernst se visie en harde werk wat tot die totstandkoming van die Suikerbosoord Dienssentrum vir Bejaardes gelei het. Hy was ook betrokke by die stigting en oprigting van die Christian Fellowship kerk in Jordaanpark.

 
Ernst was ‘n toegewyde burgemeester wat veral onthou sal word vir die feeste wat hy gereël het soos onder andere die Dwergiefees in September 1989 ter ere van Heidelberger Org Smal wat met dwergisme gebore is. Smal was die bekende kinder TV-program karakter Zet en het aan Ernst gesê dat mense met dwergisme swaar trek. Hulle het toe saam besluit om ‘n dwergiefees te reël en so bewusmaking te skep.

 
Ernst was die eerste burgemeester in Suid-Afrika wat ‘n ou Boere kuierfees in 1981 by Heidelberg se sportgronde gereël het. Die fees het braaivleis, trompoppies en ‘n hondevertoning van die destydse Suid-Afrikaanse Spoorwegpolisie ingesluit. Hy het ook ‘n rofstoei toernooi met bekendes soos Jan Wilkens aangebied.

 
Hy was verder Heidelberg Hengelvereniging se president, deel van Heidelberg Kommando en het ‘n medalje van Nigel Rotariërklub vir sy aandeel in die stigting van die dienssentrum ontvang.
Ernst sal veral onthou word vir die gratis regshulp wat hy aan mense (wat hy geglo het onregverdig behandel is) gebied het. Hy was ‘n groot kind van die Here en almal in Heidelberg het Ernst met sy Mercedes Benz met die nommerplaat ‘God 4U2’ geken.

 
Ernst het in 1978 ‘n dunderm afbindingsoperasie ondergaan. Sy gesondheid het vandaar versleg en hy moes talle groot operasies oor die jare ondergaan wat hom telkens by die dood laat omdraai het.

 
Hy het verlede jaar in Mei skielik gesukkel om te sluk en ná vele ondersoeke is slukdermkanker vroeg vanjaar by hom gediagnoseer.

 

Ernst du Preez, oud-burgemeester en sakeman van Heidelberg is na ‘n lang siekbed oorlede. Hy het baie gewig verloor nadat hy met slukdermkanker gediagnoseer is.

 
‘n Reeks van 19 bestraling- en vier chemobehandelings is op 11 Maart begin, maar in die helfte van die behandeling was dit duidelik dat Ernst te swak was om daarmee voort te gaan.

 
In lyn met sy karakter van onstuitbaarheid, wou Ernst egter eers in die nasionale verkiesing van 8 Mei stem. Martie vertel dat die verkiesingsbeamptes ‘n spesiale toegewing gemaak het en vir Ernst wou help om vanuit sy voertuig te stem. Hy het dit egter van die hand gewys en gesê omdat dit heel waarskynlik die laaste keer sal wees wat hy stem, hy dit staande in die stemlokaal wou doen.

 
Die kort ent se stap van die voertuig tot in die saal het hom egter so uitgeput dat hy in ‘n stoel moes gaan sit om te stem.

 

Ernst en Martie du Preez oorhandig ‘n sertifikaat (ten bate van die Nelson Mandela Kinderfonds) aan die oud-staatsman in 2001.

 
Sy toestand het die laaste tyd so versleg dat hy in Life Suikerbosrand Hospitaal opgeneem is. Verlede week het Martie laat weet dat haar geliefde man nie meer kommunikeer nie en selde bewus is van wat om hom aangaan. Sy het toe besluit om hom na die Suikerbosoord Dienssentrum vir Bejaardes te laat oorplaas.

 
Ernst word Vrydag (7 Junie) om 11:00 vanuit die Heidelberg Christian Fellowship kerk in Mimosalaan 22, Jordaanpark ter ruste gelê.

 

 

Volg ons op:

 

 

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Heidelberg Nigel Heraut in Google News and Top Stories.

Related Articles

Back to top button