Hemelruim betower voël- en sterrekykers
Net minder as 300 verskillende voëlspesies kan hier aangetref word. Dit verteenwoordig ‘n derde van die voëllewe in Suid-Afrika.
Vriende van Marievale het hul tweejaarlikse Springs/Nigel WESSA (Wild Life and Environment Society of South Africa) voël- en sterrekyk geleentheid op 25 Mei aangebied en die piekniekterrein was stampvol ywerige natuurliefhebbers.
Stan Madden het besoekers op ‘n ingeligte voëlbesigtiging uitstappie begelei. Die 91-jarige Madden is ‘n uitstaande voëlkundige wat ‘n hele aantal studies in verskeie tydskrifte gepubliseer het. Hy woon sedert 1949 in Dunnottar en sy passie vir die Blesbokspruit en Marievale het daar begin. Hy het ‘n nasionale natuurbewaring toekenning in 1996 ontvang vir sy pogings om te verhoed dat die Grootvlei Myn besoedelde water in die Blesbokspruit pomp.
Madden het ‘n rits ander toekennings agter sy naam en was een van die stigterslede van die Springs/Nigel tak van WESSA.
Marievale is een van min internasionale vleilande (vanuit ‘n voëlkykers perspektief) wat in Suid-Afrika voorkom. “Marievale is voorwaar ‘n skat met internasionale status en verdien daarom ons beskerming,” het Madden gesê.
Net minder as 300 verskillende voëlspesies kan hier aangetref word. Dit verteenwoordig ‘n derde van die voëllewe in Suid-Afrika.

Gedurende die wintermaande sal besoekers ongeveer 2 000 tot 3 000 wilde makoue in die vleiland aantref wanneer hulle hierheen kom om te verveer. Ververing vind in die tydperk voor paring plaas.
Terwyl hulle verveer, sal hulle glad nie vlieg nie en is aangewese op die veiligheid wat hulle by Marievale vind.
Gedurende die somer is die Blesbokspruit ‘n migrasiepad vir voëls van so ver as die oostelike kant van Asië tot by Rusland. Ongeveer 30 spesies wat net van die Noordelike Halfrond afkomstig is, kan tussen Augustus en mid-Oktober hier gesien word. Die bewaring van hierdie voëls in Suid-Afrika is belangrik vir die bewaring van voëls uit die Noordelike Halfrond. Dis ‘n ketting van bewaring wat nie gebreek mag word nie.
Daar is reeds verskeie voëls uit die Noordelike Halfrond wat nie meer hier gesien kan word nie as gevolg van klimaatsverandering in Europa. Witooievaars is ‘n voorbeeld hiervan. Ons kry nou van dié voéls wat in die Kaap probeer paar, omdat hul Europese teel- en voedingsareas nie meer beskikbaar is nie.
Madden het vertel dat daar twee verskillende spesies otters asook die kommetjiegatmuishond (watermuishond) in Marievale voëlreservaat voorkom.

Dié diertjies is maar skugter, maar kom gewoonlik uit die water net voor sonsondergang om in die grondpad te speel.
Ander soogdiere wat in die reservaat voorkom is rooijakkalse, tierboskatte, krimpvarkies, silwervosse (cape fox), klein boksoorte soos duikers en rietbokke.
Justin Donaldson (voorsitter) het die besoekers bedank vir die groot opkoms en gesê dat die opbrengs van die aand jaarliks aan verbeterings in die reservaat spandeer word.
Families en vriende het heerlik om braaivleisvure gekuier, voor sterrekundiges Andrew Helston en Tim Cooper die sterre en planete met besoekers gedeel het.
Helston en Cooper het gewaarsku dat die lugtoestande nie ideaal vir sterrekyk was nie. ‘n Paar los wolke het sake effens vertroebel. Besoekers het egter die kans gekry om Jupiter van nader deur die twee robot teleskope (wat Helston en Cooper saamgebring het) te besigtig, hoewel vog in die atmosfeer die beeld effens vertroebel het. Met die blote oog kon die konstellasie Skerpioen mooi waargeneem word.
Indien jy belangstel om meer oor die ‘Friends of Marievale’ en WESSA se Nigel- en Springstak uit te vind, kan Dee Johnson (sekretaresse) by 011 730 2059 geskakel word.
| Volg ons op: | ||
![]() |




