Local newsNews

Furball & Wigglebut skud vere reg vir hondewinterfees in Junie

Furball and Wigglebut is ‘n nie-winsgewende organisasie vir wie die welstand van honde en katte na aan die hart lê.

Hulle sien om na die sterilisasie van honde en katte wie se eienaars dit nie kan bekostig nie. Dit is veral bejaarde troeteldiereienaars wat hulle na aan die hart lê.

 

“Daar is baie eienaars daar buite wat lief is vir hulle diere, maar nie die kostes wat met sterilisasie gepaardgaan kan bekostig nie. Ons is hier om hulle te help (die organisasie betaal die helfte van die kostes) en so te verhoed dat ongewenste diere op die ou einde uitgesit moet word omdat daar nie huise vir hulle opgespoor kon word nie,” het Darlene van Wyk (een van die stigterslede) gesê.

 

Darlene woon die afgelope 20 jaar in Heidelberg en sy en haar man Hendrik het ses jaar gelede met vrywillige werk by ‘n diereorganisasie in Sasolburg begin. Hulle het egter besef dat daar ‘n groot behoefte in Heidelberg is en het Furball en Wigglebut ongeveer drie maande gelede saam met Lynette Peens begin.

 
Die organisasie beywer hulle ook daarvoor om diere te red, te rehabiliteer en goeie tuistes te vind indien nodig. Hulle het egter nie ‘n perseel om die diere te huisves nie, maar indien ‘n dier in nood verkeer, help hulle om so vinnig moontlik ‘n goeie huis te vind.

 

Die Furball and Wigglebut honde winterfees word vir 28 Junie beplan waar troeteldiereienaars en hul vierpotige vriende ‘n dag vol pret by Malonjeni gasteplaas kan geniet. Dis ‘n fondsinsameling om troeteldiereienaars wat dit nie kan bekostig nie, te help om hul diere te laat steriliseer. Daar sal ook ‘n bes-geklede hond-kompetisie gehou word. Hier is organiseerder Darlene van Wyk met Varkie tydens ‘n soortgelyke byeenkoms.

Darlene vertel van ‘n vrou met kanker wat nie na haar diere kan kyk terwyl sy in die hospitaal is nie. Die diere moet dan in pleegsorg geplaas word. Enigiemand wat hulle harte en huise as pleegversorgers van troeteldiere kan oopmaak, word gevra om hul dienste beskikbaar te stel en met Darlene in verbinding te tree.

 
‘n Winterfees vir troeteldiereienaars en hul vierpotige kinders word vir 28 Junie by Malonjeni gasteplaas beplan. Volgens Darlene hoop hulle om met dié dag nagenoeg R18 165 in te samel en daarmee 15 honde/katte se gedeelde sterilisasie onkostes te betaal.

 
Die dag beloof om pretbelaai te wees met staproetes vir eienaars met hulle honde asook hindernisbane vir onderskeidelik mans, dames en kinders, bes-geklede hond-kompetisie en selfs ‘n vierwielaangedrewe voertuig hindernisbaan.

 
‘n Kontantkroeg sal beskikbaar wees en natuurlik volop kosstalletjies. Daar sal ook ‘n speel-area vir die jongspan wees.  Die hekke sal om 08:30 open en toegang is R50 per motor en R100 vir ‘n mini-bus.  Malonjeni gasteplaas is tussen Heidelberg en Vereeniging geleë.

 
Stalletjie-eienaars mag hul ware gratis uitstal, maar dit is noodsaaklik om by Darlene te bespreek om duplisering van dieselfde soort stalletjie te verhoed. Vir meer besonderhede kan Darlene by 076 995 5337 geskakel word of stuur ‘n e-pos na furballandwigglebut@gmail.com

 

Volg ons op:

 

 

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Heidelberg Nigel Heraut in Google News and Top Stories.

Related Articles

Back to top button