Local newsNews

Heidelberg se drinkwater is op standaard en veilig

Die water in die Blesbokspruit se fosfaattelling is egter hoër as die vereiste 15ppm (een ppm (part per miljoen) is gelykstaande aan een milligram per liter water).

Heidelberg se drinkwater is op standaard en veilig vir inwoners om te gebruik. Die water in die Blesbokspruit se fosfaattelling is egter hoër as die vereiste 15ppm (een ppm (part per miljoen) is gelykstaande aan een milligram per liter water).

 
Dit is die bevinding van AfriForum nadat Willem Sprong (voorsitter: Heidelberg) en DeWet Ungerer (assistent-koördineerder: Wes-Rand) watertoetse op 5 Junie in en om Heidelberg gedoen het.

 
Die toetse vorm deel van AfriForum se blou- en groendruppelprojek wat jaarliks landwyd uitgevoer word om te verseker dat die regering sy pligte nakom om gehalte drinkwater aan Suid-Afrikaners te verskaf.

 
Ungerer en Sprong het die kraanwater by HERAUT se kantoor, die water in die Blesbokspruit net voor dit die dorp binnekom (naby Heidelberg DBV) asook die water by die uitloop van die ERWAT (East Rand Water) rioolwerke in Ratanda (voor dit in die Blesbokspruit vloei) getoets.

 
Die toetse het aangetoon dat daar wel besoedeling by die rioolaanleg was, maar volgens Sprong was dit egter nie so hoog dat daar rede tot kommer is nie. Die nitraatvlakke van die Blesbokspruit was binne die vereiste 10ppm, maar die fosfaattelling was tussen 50 en 100ppm.

 

 

AfriForum het onlangs die watergehalte in en om Heidelberg getoets. Hier is DeWet Ungerer (assistant-koördineerder: Wes-Rand) en Willem Sprong (voorsitter: Heidelberg) besig met watertoetse by ERWAT rioolwerke in Ratanda.

Fosfaat in riviere wat deur die mens se toedoen veroorsaak word, is afkomstig van rou- of gedeeltelik behandelde riool, afloop van landbou persele asook die aanwending van sekere kunsmis. Fosfaat is nie giftig vir mens of dier nie, tensy uitermatige groot hoeveelhede voorkom wat spysverteringsprobleme kan veroorsaak.

 
AfriForum sê dat munisipaliteite en plaaslike regering nie watersuiwerings- en rioolaanlegte behoorlik in stand hou nie. Die staat publiseer sedert 2013 nie meer sy bloudruppel (drinkwater) en groendruppel (rioolwater) verslag nie. AfriForum doen dus jaarliks hul eie toetse en publiseer verslae hieroor om die owerhede verantwoordbaar te hou. Dit word ook gedoen sodat die publiek insae in die stand van hul water kan hê.

 
Indien jy by die plaaslike AfriForum-tak wil aansluit of meer besonderhede wil uitvind, skakel Sprong by 083 611 9589.

 

Volg ons op:

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Heidelberg Nigel Heraut in Google News and Top Stories.

Related Articles

Back to top button