Heidelberg en Nigel se karatekas lewer uitstaande prestasies tydens nasionale kampioenskappe
Meer as 3 800 karatekas vanoor al nege provinsies in Suid-Afrika het teen mekaar kom kragte meet in 390 afdelings, wat hierdie die grootste nasionale karate kampioenskappe in die suidelike halfrond maak.
Karateklubs onder leiding van Sensei Bernard Raubenheimer het uitstekend gevaar tydens die afgelope SA JKA Nasionale Kampioenskappe wat op 24 en 25 Mei in die Ellispark Binnenshuise saal afgespeel het. Meer as 3 800 karatekas vanoor al nege provinsies in Suid-Afrika het teen mekaar kom kragte meet in 390 afdelings, wat hierdie die grootste nasionale karate kampioenskappe in die suidelike halfrond maak.
Karatekas het oor twee dae deelgeneem, waar die gekleurde gordels op 24 Mei mekaar aangevat het en op 25 Mei het die bruin- en swartgordels in die elite afdelings sake uitgespook vir medaljes en SA-kleure.
Heidelberg en Nigel se dojos spog met 35 karatekas wat die Gauteng provinsie in 46 afdelings verteenwoordig het. Die groep het saam vier goud-, ses silwer- en sewe brons medaljes ingepalm. ‘n Pragtige getal van 15 plaaslike karatekas het ook hul nasionale kleure hier verwerf.

Die plaaslike dojos spog nou ook met nasionale kampioene in hul midde. Lizel Rautenbach het goud verdien in die kata-afdeling, Leny Fremouw het goud in die spesiale junior afdeling verdien, Adriaan Coetzee verdien ‘n goue medalje in die kata-afdeling en Ruben Venter het ook goud verwerf vir kata. Sensei Bernard sê dat sy karatekas hom beïndruk het met hul vertonings en hoë standaard. ‘n Verdere 16 plaaslike karatekas het in die top agt van hul afdelings geëindig, wat ‘n groot prestasie is aangesien daar meer as 40 deelnemers in ‘n afdeling was.
Heidelberg dojo spog ook met nog twee volwaardige swartgordel karatekas. Phlippie Venter het sy derde dan gradering geslaag en Pieter Roets het sy eerste dan gradering suksesvol afgelê. Albei het die afgelope ses maande intensief voorberei vir die graderings wat op nasionale vlak by die SA JKA hoof-dojo in Wanderers afgelê is.
Dit was veral Phlippie wat ‘n baie taai gradering moes slaag vir sy derde dan. Hy moes sy kennis in basiese tegnieke en kata toon en in 10 gevegte deelneem om aan Suid-Afrika se top instrukteurs te bewys dat hy sy derde dan waardig is.

Die nasionale slaagsyfer vir swartgordels is huidiglik 35%, maar Heidelberg dojo spog die laaste drie jaar met ‘n 100% slaagsyfer wat weereens die standaard wat Sensei Bernard handhaaf beklemtoon.
Dit is nou tyd vir skoolvakansie waar almal nou ‘n welverdiende ruskans neem. Kinders (en volwassenes) wat egter na die vakansie by die karateklubs wil aansluit, is welkom om Sensei Bernard by 083 489 8231 te skakel. Daar is dojos in Heidelberg, Nigel sowel as Balfour.
| Volg ons op: | ||
![]() |




