Lyk jou beste met regte kleurskema
Die dames van VLU Nigel-tak het by die Nederduits Gereformeerde Kerk, Nigel-Oos vergader waar meer oor verskillende kleurskemas wat by vroue pas, geleer is.
Die dames het ontbyt, wat deur Annatjie van der Merwe (gasvrou) en haar teedames Erika Blom en Ronel Lombaard (voorsitter) voorgesit is, geniet. Na die smaaklike ontbyt het Lombaard die vergadering tot orde geroep en verskeie projekte en funksies van ander takke asook die kongres wat voorlê, is bespreek.
Lombaard het almal wat aan die hekel- en breiprojek vir die Nigel Tuiste vir Bejaardes deelgeneem het, vir hul harde werk en bydrae tot die projek bedank. Daar was altesaam 15 gebreide en gehekelde kniekomberse, vyf lapkomberse en 11 pare moffies aan die tehuis oorhandig. Elsa Greyling is ook vir haar ruim bydrae van babaklere vir hul streeksprojek bedank.
Hierna het Marie de Jager (gaspreker) aan die dames ‘n demonstrasie oor kleurskemas wat by verskillende tipe vroue pas gegee, asook wat jy aan jou klerekas kan doen om by jou figuur en persoonlikheid te pas. Al die dames het lekker saam gesels oor die tema en baie geleer.
VLU Nigel-tak se volgende vergadering vind op 8 Augustus by die Nederduits Gereformeerde Kerk, Nigel-Oos plaas. Belangstellendes kan vir Anne-Marie Axer (skakelbeampte) by 082 886 2002 skakel.
| Volg ons op: | ||
![]() |




