Dokters staan verstom oor Adriaan Venter se wonderbaarlike herstel ná hy bewusteloos uit sy brandende huis gedra is en vele operasies aan sy longe moes ondergaan om die rookskade te herstel.
Adriaan (44) en sy vrou Cindy (29) is op 16 Junie omstreeks 03:00 in hul brandende huis vasgekeer en bure en ander gemeenskapslede moes ‘n sekuriteitshek oopbreek om die egpaar te red.
Adriaan het Cindy op 27 Junie by die huis van familie waar die gesin tydelik bly, verras nadat hy uit die hospitaal ontslaan is. Sy mediese span meen dit is ‘n wonderwerk dat hy so vinnig herstel het. Die egpaar glo dit was die gebede van honderde mense wat tot sy herstel bygedra het.
“Hoewel Adriaan verlig is dat hy uiteindelik ontslaan is, verduur hy nog baie pyn. Hy probeer ter wille van sy gesin sterk wees,” het Cindy se suster Liza op 30 Junie laat weet.
Die gesin het al hul besittings in die brand verloor en benodig dringend skenkings van die publiek. Klere, skoene, beddegoed en enige huishoudelike items kan geskenk word.
Kontantskenkings word veral benodig want die kinders (die 5-jarige Wian en 9-jarige Kayla) het skoolklere, tasse en ander skoolbenodigdhede nodig voor die skool op 9 Julie heropen.
Klere vir Adriaan is veral nou ‘n groot behoefte. Hy dra ‘n nommer 38-40 broek, ‘n XXL-grootte hemp en nommer 10 tot 11 skoene.
Die gesin het hul dankbaarheid teenoor die gemeenskap uitgespreek wat hulle tydens die brand bygestaan het en vir die skenkings wat reeds ontvang is. Hulle wil in besonder die persoon wat R10 000 geskenk het, bedank. “Dit was ‘n groot geskenk en werklik baie welkom,” het Liza gesê.
Enigeen wat kontant skenkings wil maak, kan dit in Cindy se rekening by AC Venter, Capitec Bank rekeningnommer 1650238809, takkode 470010 inbetaal. Skenkings van klere, beddegoed en enige huishoudelike items kan by Romynstraat 101, Rensburg afgelaai word of skakel Liza by 079 847 5712.
| Volg ons op: | ||
![]() |




