Nigel Nooddienste groet Rudi Beukes met swaar hart
Rudi Beukes, senior distrikbestuurder en assistenthoof van Nigel Nooddienste, betree ‘n nuwe lewensfase nadat hy die tuig op 1 Julie amptelik neergelê het.

Tydens ‘n spesiale afskeidsfunksie wat op 28 Junie vir Beukes gehou is, het hy met ‘n swaar hart van kollegas asook die historiese gebou waar hy die gemeenskap die afgelope 30 jaar gedien het, afskeid geneem.
Beukes wat in 1983 by die Hoër Tegniese Skool in Springs gematrikuleer het, se loopbaan het eers by die Suid-Afrikaanse Polisie Dienste afgeskop, waarna hy op 1 Julie 1989 as junior brandweerman by Nigel Brandweer aangestel is. Hy is kort daarna tot senior brandweerman bevorder en het later die pos as leier brandweerman by brandvoorkoming beklee voordat hy as assistant hoof by die Ekurhuleni Metropolitaanse Raad aangestel is. As senior distrikbestuurder was hy aan die stuur van sake by Nigel, Duduza, Selection Park asook Kwa-Thema Nooddienste en in dié posisie het hy groot respek onder kollegas verwerf.
Hoogtepunte en laagtepunte oor die afgelope 30 jaar is te veel om op te noem, maar Beukes onthou veral die tragiese gebeure in Augustus 2010 toe 18 inwoners van die voormalige Pieter Wessels Tuiste vir Bejaardes in ‘n brand gesterf het.
As trotse dienaar van die gemeenskap het Beukes voor talle uitdagings te staan gekom en erken dat dit nooit vir hom ‘n maklike taak was nie. Tog het hy tragiese en traumatiese gebeure soos die afsterwe van sy vriend en kollega Johan van Vuuren, met sy alombekende positiewe werksetiek hanteer. In menige oë is hy ‘n outentieke held.
“Lede van die gemeenskap en veral boere in die omgewing skakel my dikwels sommer direk op my selfoon in geval van nood. Ek skryf dit aan hegte vriendskapsbande wat oor die jare gesmee is, toe. Ek gaan die kameraderie mis en sal altyd met heimwee terugkyk na hierdie fase van my lewe. Ek het talle van hierdie brandweermanne met die hand grootgemaak en beskou hulle amper soos my eie kinders,” het Beukes gesê en bygevoeg dat hy nie beplan om na sy vervroegde aftrede handjies gevou by die huis te sit nie.
In sy vrye tyd hou hy homself met staalwerk besig en beskou hy homself as ‘n kranige grofsmid. Sy vrou Renee het dit beaam en gesê sy sien daarna uit om meer tyd saam met haar man te spandeer.
Lof en waardering vir Beukes se onbaatsugtige diens as hoof van die plaaslike brandbestrydingseenheid het uit alle oorde ingestroom. Dit is veral kollegas soos Malose Seefane wat bykans twee dekades lank ‘n pad saam met Beukes stap, wat sy dankbaarheid uitgespreek het.
“Ek het so baie by Mnr Beukes geleer en sal dit altyd saam met my dra. Hy het diep spore in ons gemeenskap van brandbestryders getrap en ek gaan dit mis om saam met ‘n ware leier te werk,” het Seefane gesê.
Beukes sê hy sien daarna uit om na aftrede meer tyd saam met sy drie kinders en twee kleinkinders te spandeer en beplan ook om meer te reis.
“Ek wil die gemeenskappe waarin ek gedien het vir hul vertroue, samewerking en positiewe gesindheid teenoor Ekurhuleni Nooddienste bedank. As ek terugkyk oor die afgelope 30 jaar, was daar nie net negatiewe en slegte herrinneringe nie, maar ook baie positiewe gebeure wat ek altyd met my sal saamdra,” het hy gesê.
Intussen word die leisels aan Bennie Willemse oorgegee. Tot by die permanente aanstelling van ‘n stasiehoof, sal Willemse op ’n rotasiebasis as assistant hoof waarneem.
Volg ons op: | ||
![]() |
![]() |
![]() |
![]() |