Local newsNews

Inwoner laat amputasie hom nie onderkry

Pa van drie vol hoop oor toekoms.

Nigel – Raimond van Schalkwyk (36) se lewe het 11 jaar gelede onherroeplik verander nadat hy in ‘n motorongeluk, waarin hy ‘n passasier was, op 27 April 2008 betrokke was. Die bestuurder het beheer oor die voertuig verloor en die voertuig het gerol.

 

Van Schalkwyk is uit die voertuig geslinger en sowat 190 meter van die voertuig gevind. Met die aankoms van die nooddienste het hulle amper oor Van Schalkwyk gery, aangesien dit baie donker was. Hy het op sy voete geland en sodoende beide sy enkels gebreek. Dokters moes sy enkels kunsmatig heg. Die linker enkel het behoorlik genees, maar die ander een het baie probleme veroorsaak.

 
Ná 11 jaar en 18 operasies het die dokters aan Van Schalkwyk gesê daar is niks wat hulle meer kan doen om sy enkel te heg nie. Sy onderbeen is op 14 Junie geamputeer.

 
Van Schalkwyk is in Nigel gebore en het hier grootgeword. In later jare het hy as ketelmaker gekwalifiseer en vir 16 jaar was hy by Van Driel Staalwerke werksaam. Selfs na die ongeluk het Van Schalkwyk gaan werk tot die beste van sy vermoë. Die besigheid het in 2017 sy deure gesluit en dit het Van Schalkwyk werkloos gelaat.

 
Dinge het swaar gegaan vir die gesin van vyf, twee seuns van twee en sewe en ‘n dogter van 16, maar Van Schalkwyk het wel daarin geslaag om privaat werk gedurende 2017 en 2018 te kry, genoeg om die pot aan die kook te hou. Sy vrou Trudie het ook twee koswaentjies besit en kos aan die menige fabriekswerkers in Vorsterskroon verskaf, maar moes later dié waentjies weens finansiële redes verkoop.

 
In Maart 2018 het hy nog ‘n operasie ondergaan nadat die pen wat sy hak aan sy been moes heg, losgekom het. Hy moes weer van vooraf herstel en leer loop. Teen Desember 2018 kon Van Schalkwyk sien dat die enkel nie reg is nie en het teruggegaan dokter toe waar hulle die slegte nuus vir hom gegee het dat hy ‘n amputasie sou moes ondergaan.

 

“Ek het ‘n maand voor die amputasie baie geskerts en gelag oor die storie, min wetend dat dit net op daardie stadium nog nie ingesink het nie,” vertel Van Schalkwyk. “Die dag van die operasie het dit my getref en ek het geknak,” vertel hy.

 

In die teater moes die narkotiseur meer as eenkeer epidurale narkose aan Van Schalkwyk toedien, maar in sy toestand en die gepaardgaande stres kon die medikasie nie ten volle deur sy liggaam opgeneem word nie. Hy is toe onder algemene narkose geplaas. Slegs een dag na die operasie was Van Schalkwyk gereed om huis toe te gaan.

 

“Ek het almal net gevra om asseblief nie te huil nie,” sê Van Schalkwyk. “Ek het geweet dat, sou ek die trane en hartseer sien, dit my sou gebreek het,” voeg hy by.

 

“Hy is nou weer homself, die man wat lag en grappe maak,” vertel sy vrou Trudie. “Hy is emosioneel weer gereed om die wêreld aan te pak,” voeg sy by.

 

Van Schalkwyk se amputasie het vlot verloop en sodra die wond genees het, gaan hy vir ‘n prostese begin voorberei. Dit behels kompressieverbande wat om die ledemaat gedraai word om ‘n spesifieke vorm te kry wat in die prostese sal pas.

 
Van Schalkwyk het egter nie ‘n mediese fonds nie en die kostes vir ‘n prostese beloop honderdduisende rande. Frans E Marx Orthotics in Boksburg gaan die prostese vir hom maak en pas indien hulle die nodige fondse kan insamel.

 
Die gesin het ‘n bankrekening by Capitec Bank geopen om die fondse direk aan Frans E Marx se praktyk te kan oorbetaal. Enige donasies van die publiek sal opreg waardeer word en kan in die volgende rekening betaal word: Prosthetic Leg Capitec Bank, rekening nommer 164 799 7729 Takkode 470 010. Die fondse kan nie onttrek word deur die gesin nie en word aan die praktyk oorbetaal vir die prostese.

 

Raimond en Trudie van Schalkwyk is vol moed en hoop vir die toekoms nadat Raimond ‘n onderbeen amputasie op 14 Junie ondergaan het. Die reusetaak om finansies in te samel vir ‘n prostese lê nou voor, aangesien die gesin nie oor ‘n mediese fonds beskik nie.

 

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Heidelberg Nigel Heraut in Google News and Top Stories.

Related Articles

Back to top button