Local newsNews

Gebruik jou medisyne reg apteker deel waardevolle riglyne

Suzette Kruger (plaaslike apteker) het dames van Heidelberg VLU meer oor die regte gebruik van medisyne tydens hul vergadering op 11 Julie vertel.

Sommige medisyne moet tussen 2°C en 8°C gebêre word. Suzette sê dis beter om dit in die yskas se deur of in die middel van die yskas te stoor, aangesien dit dalk agter in die yskas mag vries. Dit geld veral vir immunisering en vloeistof antibiotika wat gewoonlik vir kinders gemeng word.

 

Heidelberg VLU se Julie vergadering was ‘n snoegige oggend met lede wat in hul slaapklere opgedaag het. Agter is Jenny Gorny, Lydia Botha, Suzette Kruger (gasspreker), Susan Smit en Wilna Moore. Voor is Esra Leibold, Adele Momberg en Yolande Klingbiel.

 

Penne wat deur gebruikers van insulien gebruik word, moet penne wat nie op die oomblik gebruik word nie in die yskas stoor. Die pen wat in gebruik is, hoef nie in die yskas te wees nie.
Ander medisyne moet onder 25°C gestoor word want die samestelling kan met hoër temperature verander en die medisyne mag giftig raak. Daarom mag apteke nie medisyne wat klante nie gebruik het, terugneem nie.

 
Dit is van kardinale belang dat mense chroniese medisyne gereeld moet neem en nooit oorslaan nie. Suzette het vertel dat ‘n studie getoon het dat mense slegs agt herhalings per jaar van hul chroniese medisyne neem. Dit beteken dat hulle drie maande uit elke jaar nie die nodige medisyne neem nie.

 

Suzette Kruger (plaaslike apteker) was die gasspreker tydens Heidelberg VLU se vergadering. Sy het interessante inligting oor medisyne gegee.

 

Medisyne vir hoë bloeddruk, cholesterol en skildklier moet vir die res van die pasiënt se lewe gedrink word en mense moet hieroor by hul dokters seker maak wanneer dit voorgeskryf word.
Dit is belangrik dat antibiotika opgedrink word anders bou mense weerstandigheid daarvoor op en dan help dit later nie meer nie.

 
Ysteraanvullings moet ná ete geneem word en nie saam met suiwelprodukte nie, want yster word saam met suiwel uitgeskei sonder dat dit deur die liggaam opgeneem word.  Suzette sê mense moet nie handevol vitamines inneem nie.

 

“Kry een goeie multivitamien wat veral Vitamine D bevat. Mense oor 40 jaar moet kalsium inkry. Kalsium aanvullings moet magnesium bevat wat met absorbsie help.“

Sy het afgesluit deur te maan dat mens nie self van medisyne (wat verval het) moet ontslae raak nie. Moet dit nie in die toilet gooi waar dit in gryswater sisteme kan beland nie. Moet dit ook nie in die grond begrawe of saam met vullis uitgooi nie. Suzette sê apteke en hospitale het maatskappye aan wie hulle die medisyne gee, wat dit op ‘n wettige manier vernietig.

 
Lede het as tema met hul slaapklere vir die vergaderig opgedaag en was dit eens dat dit baie gemaklik en warm was. Heidelberg VLU se volgende vergadering is om 09:30 op 15 Augustus. Vir meer besonderhede kan Yolande Klingbiel by 082 421 5354 geskakel word.

 

Volg ons op:

Related Articles

Back to top button