Die eerste indruk wat mens van Marie Coetzee kry wanneer jy haar by Nigel Tuiste vir Bejaardes besoek, is dat sy onmoontlik haar 99ste verjaardag op 27 Julie gevier het. Op die oog af lyk die tenger bejaarde blakend gesond en ondanks ‘n onlangse kopbesering toe sy by haar dogter se huis geval het, is sy verbasend aktief en skerpsinnig.
Dié statige dame is in 1920 op die plaas Arcadia in die Bethlehem-distrik gebore waar sy die tweede jongste van vier kinders was. Sy het haar skoolloopbaan in Senekal voltooi waarna sy haar man Jacobus ontmoet het.
“Daardie jare het meisies maar op ‘n jong ouderdom getrou. Ek was ook net 19 jaar oud toe ek in 1940 getroud is. Jacobus was die liefde van my lewe,” het sy met ‘n glimlag verklap.
Die egpaar het na Ermelo verhuis waar Jacobus onderwys by ‘n hoër handelskool gegee het en Marie het as boervrou na die huishouding omgesien. Drie kinders is uit die huwelik gebore en Marie het dit haar lewenstaak gemaak om na haar gesin se behoeftes om te sien. As voorslag bakker het sy die dorp se tuisnywerheid gereeld voorsien en was ook jarelange lid van die Vroue Landbou Unie. Gedurende haar lidmaatskap het sy verskeie pryse vir veral skilderkuns ingepalm.
Toe Marie egter in haar mid-dertigs deur porfirie platgetrek is, was daar menige donker dae en wanneer sy aan dié tydperk in haar lewe terugdink, onthou sy dat sy by tye so siek en verswak was dat sy geglo het die einde is naby.
“Die dokters het op ‘n stadium teenoor my familie verklaar dat hulle niks meer vir my kan doen nie,” het sy gesê en met ‘n glimlag bygevoeg dat dit egter God se hand en Jacobus se liefde en geduld was wat haar uiteindelik weer op die been gekry het. Sy het volkome herstel en daarna ‘n normale en gesonde lewe gelei.
Die egpaar het later na Nigel verhuis en Jacobus is in 2003 oorlede, waarna Marie haar intrek by die tuiste geneem het. Dit is ook hier waar sy nogsteeds haar gewig by verskeie fondsinsamelingsprojekte gooi. Haar hande staan vir niks verkeerd nie en of dit nou kussingoortreksels of skilderye is, Marie lewer gereeld haar bydrae vir die jaarlikse kermis.
Teen ‘n muur in haar kamer hang twee skilderye wat sy onlangs voltooi het en verder af in die gang by die ingang van die gemeenskapsaal pronk nog ‘n paar van haar kunswerke teen die muur. Wanneer sy haar nie met haar neus in ‘n boek in ‘n sonkol bevind nie, is sy besig om te skilder. Sy deel ook graag haar herinneringe oor die talle lappoppe en groete-kaartjies wat sy met verloop van tyd gemaak het en dit is duidelik dat daar geen perke aan Marie se kreatiwiteit is nie.
Sy kuier gereeld by haar dogter wat in Nigel woon en sê dat sy nie nie net die grootmoeder van 10 kleinkinders is nie, maar spog ook met ses agterkleinkinders. Wat haar 100-jaarviering volgende jaar betref, laat sy haar nie veel uit nie en sê dat sy elke dag net op God se genade leef.
| Follow us on: | ||
![]() |




