Kotze neem bestuurspos by dienssentrum oor
Jannie Kotze het die leisels by Suikerbosoord Dienssentrum vir Bejaardes stewig vasgevat toe hy op 2 Julie as nuwe bestuurder by die aftree-oord oorgeneem het.
HEIDELBERG – Jannie Kotze het die leisels by Suikerbosoord Dienssentrum vir Bejaardes stewig vasgevat toe hy op 2 Julie as nuwe bestuurder by die aftree-oord oorgeneem het.
Hy is ‘n jarelange inwoner van Heidelberg wat eers vir Transnet in Johannesburg gewerk het. Jannie is ‘n bekende lid van die Parabats Veterane Vereniging wat hy help stig het en steeds ‘n aktiewe lid van die plaaslike Suikerbos Canopy.
Hy het ook ‘n draai in Suid Soedan gemaak waar hy opleiding in finansiële bestuur vir die weermag aangebied het.
Hy en sy vrou Cornie het twee seuns waarvan een ‘n verstandelik gestremde seun is en dit is as gevolg van dié spesiale seun van hom dat Kotze ‘n passie vir nie-winsgewende organisasies ontwikkel het. Hy was 10 jaar lank die beheerliggaam voorsitter van Felicitas Skool vir fisiese en intellektueel gestremde kinders en het ook ‘n paar jaar gelede as tydelike bestuurder van Sunfield Fortuna Tehuis in Balfour opgetree.
“Ek het ‘n passie en liefde vir die inwoners van Suikerbosoord en glo dit is die Here wat my hierheen gestuur het en ek sien daarna uit om die bejaardes se beste belange op die hart te dra. Ek is verantwoordelik om te verseker dat hierdie ‘n ware tuiste vir die bejaardes is. Vir baie van hulle is dit hul laaste tuiste en ek wil verseker dat hulle nie net goed versorg word nie, maar met liefde en deernis behandel word,” het Kotze gesê.
Gelukkig is hier ‘n bekwame en gewillige personeelkorps wat agter hom staan, sê Kotze en dat daar wel uitdagings is soos onder andere die arbeidswet wat druk op die operasionele bestuur van die tehuis plaas. Dit bly ‘n groot uitdaging.
Hy nooi ook die publiek en sakeondernemings uit om by die oord betrokke te raak en met positiewe voorstelle vorendag te kom wat sal verseker dat dit die oord van keuse in Heidelberg en omgewing sal bly.
Kotze sê dit is ook hartseer om te sien hoeveel eensame bejaardes daar is wie se kinders en kleinkinders in ander lande woon en nie dikwels kom kuier nie. Hy beplan om ‘n ‘Neem ‘n Ouma/Oupa aan’-veldtog te begin waar Heidelbergers tyd sal afstaan om by die bejaardes te kuier en na daaglikse behoeftes soos toiletware of ‘n eetdingetjie en besoeke om te sien.
Hy is ook reeds besig om inligting oor inwoners se loopbaan verledes in te samel om sodoende ‘dié wat nog die wil en energie het’ te gebruik om klein takies in en om die tehuis te verrig.

“Ons sit hier met kundige mense soos ingenieurs, bouers, bakkers en ander beroepe wat ons van groot hulp kan wees. Al kan hulle ons net met goeie raad bystaan, sal dit baie waardevol wees en dan is hulle ook betrokke. Dit sal baie vir die bejaardes beteken dat hulle nog ‘n bydrae kan lewer,” het Kotze gesê.
Met die pas afgelope opstande in Ratanda het inwoners sowel as die publiek gewys wat in hulle steek toe hulle by die tehuis opgedaag en hulp by plekke soos die hoësorg afdeling en kombuis aangebied het. “Dit was ‘n riem onder die hart hoe mense ingespring het om ons te help. Van ons eie personeel het ook nie geskroom om dubbelskofte te werk nie,” het Kotze voortgegaan.
“In dié soort organisasies is daar baie emosie en ongelukkig is dit so dat mense gerugte versprei wat nie altyd die waarheid weerspieël nie. Ek versoek inwoners en die publiek om my direk te skakel indien sulke gerugte die ronde doen sodat die saak openlik uitgeklaar kan word,” het Kotze gesê.
Hy sê dat sy deur altyd oopstaan en dat hy oop is vir opbouende kritiek, maar dat mense daarmee saam ook oplossings moet bied.
“Ek wil ‘n werklike en positiewe verskil by Suikerbosoord Dienssentrum vir Bejaardes maak. Soos Bryan Adams in die liedjie sê: ’18 Till I die’ wil ek myself en ons bejaardes bemoedig om die lewe ten volle te geniet en positief te bly,” het Kotze afgesluit.
| Follow us on: | ||
![]() |




