Local newsNews

Polisie, gemeenskap moet saamwerk om misdaad hok te slaan

Senior offisiere van Heidelberg SAPD het ‘n inligtingsvergadering met inwoners van Sektor 1 op 30 Julie gehou.

HEIDELBERG – Senior offisiere van Heidelberg SAPD het ‘n inligtingsvergadering met inwoners van Sektor 1 op 30 Julie gehou.
Sersant Vusumuzi Zondo (bevelvoerder) van Sektor 1, wat gebiede soos Bergsig, Spaarwater en Overkruin insluit, sê dit is belangrik dat die polisie en gemeenskap mekaar leer ken gereeld oor probleme in hul gebiede kommunikeer.

 
“Dit is belangrik dat die SAPD goeie diens aan sy gemeenskap lewer. Ons kan nie die geveg teen misdaad wen sonder die samewerking van Heidelberg GPF-lede en die gemeenskap nie,” het Sersant Zondo gesê.

 
Luitenant-Kolonel Zacharia Nkhabelane het homself as Heidelberg SAPD se nuwe Vispol bevelvoerder voorgestel. Hy het gesê dit is vir hom belangrik om die gemeenskap wat Heidelberg polisie bedien, te leer ken. Dit is ook belangrik dat inwoners mekaar sal ken sodat vreemdelinge en verdagte voertuie dadelik geïdentifiseer kan word.

 

Sieg Paul (DA raadslid van Lesedi Plaaslike Munisipaliteit) het ook die polisie se vergadering met inwoners van Sektor 1 bygewoon.

Hy het gevra dat inwoners probleme met die polisie moet bespreek sodat dit aangespreek kan word.
Kolonel Amanda Viljoen (bevelvoerder: Heidelberg SAPD) het haar span en Heidelberg GPF bedank dat hulle as ‘n span saam met haar werk om misdaad hok te slaan.

 
Sy het die vergadering ingelig dat misdaad in Sektor 1 heelwat afgeneem het. “Ons het op ‘n stadium met inbrake in Bergsig gesukkel, maar nadat ‘n paar verdagtes (baie van hulle was uit op parool of het vorige veroordelings gehad) aangekeer is, het die inbrake drasties afgeneem,” het Kolonel Viljoen gesê.

 
Sy het gemaan dat inwoners bedag moet wees op vreemdelinge en seker moet maak dat hekke, deure en vensters gesluit is. Baie misdadigers is opportuniste en slaan toe wanneer inwoners laks raak en byvoorbeeld ‘n hek oop vergeet. Rowers en inbrekers beweeg vir ‘n tyd in ‘n omgewing rond om potensiële slagoffers dop te hou. Dit is daarom belangrik om verdagte persone en/of voertuie by die polisie aan te meld.

 

Kaptein Thivhulawi Tshilate van Heidelberg SAPD praat met gemeenskapslede tydens die polisie se vergadering met inwoners van Sektor 1.

Sy het beklemtoon dat die SAPD die hulp van die gemeenskap benodig. “Heidelberg Polisiestasie het slegs 124 personeellede (klerke ingesluit) wat ‘n gemeenskap van 34 000 inwoners moet bedien. Ons moet ook ‘n wye gebied van plaasgemeenskappe veilig hou.

 

“Die gemeenskap moet egter nie hul lewens in gevaar stel nie, maar slegs as die polisie se oë en ore optree,” het Kolonel Viljoen gemaan.

 
Sy het gesê dat dwelmmisbruik ‘n groot probleem in Heidelberg is, maar dat die polisie nie die probleem alleen kan bestuur nie. Dit is ook die werk van maatskaplike dienste om dwelmhandelaars uit te wys sodat die polisie hulle kan aankeer.

 
Sy het verder gesê dat diefstal van elektriese kabels en onwettige konneksies ‘n groot probleem is en sy het die GPF gevra om gereelde vergaderings met die gemeenskap te hou sodat hulle oor die sake ingelig kan word.

 
Kolonel Viljoen het ook protesaksies waar infrastruktuur beskadig word, aangespreek. Sy het gesê dat die infrastruktuur wat beskadig word tot nadeel van die hele gemeenskap is. Sy het gevra dat kerke by die kwessies van straatkinders betrokke moet raak. Maatskaplike dienste moet ook by hawelose mense betrokke raak.

 
“Hoewel ons polisie met graagte inligtingspraatjies by skole aanbied, begin kinders se opvoeding by die huis en ons pleit by ouers om betrokke by hul kinders te wees en nie die opvoeding aan die skool, onderwyser en/of polisie oor te laat nie.
Die vergadering het hierna die geleentheid gehad om vrae te vra wat deur die lede beantwoord is.

 
Sersant Zondo het afgesluit deur te vra dat die gemeenskap die polisie in hul stryd teen misdaad sal help. “Sonder die gemeenskap wat inligting aan ons deurgee, sal ons taak verder bemoeilik word.”

 
Die polisie (met Adjudant-Offisier Wollie Wolmarans) het ‘n soortgelyke vergadering met inwoners van Sektor 2 op 5 Augustus gehou en ‘n vergadering met Sektor 3 se inwoners word ook beplan. Adjudant-Offisier Frank Mnqosini (bevelvoerder) sal inwoners vroegtydig in kennis stel.

 
Telefoonnommers wat jou direk met die SAPD se patrollievoertuie in verbinding bring, is: SEKTOR 1 (Overkruin, Leërgimnasium, Heidelberg Kloof, Bergsig, Spaarwater, Rooikraal, Eendracht, Blinkpoort, Groenfontein, Poortje, Suikerbosrand Natuurreservaat, Koppieskraal en Klippoortje) 071 675 7396.

 
SEKTOR 2 (Heidelberg Sentraal, Jordaanpark, Shalimar Ridge, Boschfontein, Schikfontein, Klipstapel en Mount Arabel) 071 675 7295 of 071 675 7292.

 
SEKTOR 3 (Rensburg, Houtpoort, Lagerspoort, Steynskraal, De Hoek, Modderfontein en Bothaskraal) 071 675 7296 of 071 675 7294.

 

Follow us on:

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Heidelberg Nigel Heraut in Google News and Top Stories.

Related Articles

Back to top button