Local newsNews

Drie vir moord gearresteer

“Hulle het my broer se kop ingeslaan. Hulle het hom verskriklik verniel,”

Lydia Rice
news2.heraut@lantic.net

HEIDELBERG – “Hulle het my broer se kop ingeslaan. Hulle het hom verskriklik verniel,” het Andries Swanepoel se ontstelde broer op die toneel uitgeroep nadat hy by die moordtoneel opgedaag het.

 

Swanepoel (58) se 44-jarige lewensmaat en haar 22-jarige seun (uit ‘n vorige verhouding) is saam met nog ‘n man van 64 jaar oud op 25 Augustus in verband met sy moord gearresteer. Andries se bebloede liggaam is vroegoggend in sy huis in AG Visserstraat (deur nog ‘n inwoner van dié adres) gevind, waarna die polisie ontbied is.

 

Andries Swanepoel (58) is dood in sy huis in Rensburg aangetref. Sy lewensmaat, haar seun (uit ‘n vorige verhouding) en nog ‘n man is vir sy moord aangekeer.

 

Die egpaar se vierjarige kleuter is in veilige bewaring geplaas voor polisie die verdagtes op die perseel gearresteer het. Swanepoel se ouer broer het ‘n rukkie later by die huis opgedaag en was buite homself nadat hy die huis in is om sy broer se liggaam uit te ken.
Volgens Kaptein Thivhulawi Tshilate (woordvoerder) van Heidelberg SAPD is Swanepoel met ‘n harde voorwerp aangerand en het baie gebloei.

 

Kaptein Tshilate sê Swanepoel se lewelose liggaam is na ‘n kamer in die huis gesleep en daar gelaat. Swanepoel het behalwe vir letsels oor sy hele lyf, ook ‘n groot gat aan sy kop opgedoen.
Volgens sy familie het Swanepoel en sy lewensmaat onlangs na Heidelberg verhuis. Hy is oorspronklik van Boksburg, maar het die laaste tyd in Leondale gewoon voor hy na Heidelberg verhuis het. Swanepoel was ‘n werktuigkundige wat los werk gedoen het.
Sy familie beskryf die 44-jarige vrou as ‘n moeilikheidmaker en sê hulle sukkel om die wrede manier waarop Swanepoel vermoor is, te verwerk. Hulle hoop dat die skuldiges aan die pen sal ry.

 

Die verdagtes sou op 26 Augustus in Heidelberg Landdroshof op aanklagte van moord verskyn. Die ondersoek duur voort.

 

 

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Heidelberg Nigel Heraut in Google News and Top Stories.

Related Articles

Back to top button