Oktober is borskanker bewusmakingsmaand
Oktober is borskanker bewusmakingsmaand in Suid-Afrika, en baie mense dra pienk strikkies vir die bewusmaking daarvan.

Borskanker is ‘n kwaadaardige gewas wat ontstaan weens die ongekontroleerde en onbeheerde groei en vermenigvuldiging van ‘n sel in die bors wat ‘n reeks veranderings ondergaan het.
Hoewel die gewas aanvanklik net die bors raak, kan borskanker versprei wanneer selle uit die gewas ontsnap en deur die bloed en limfstelsel versprei na ander dele van die liggaam soos die longe en skelet, waar dit vermenigvuldig en ander gewasse vorm. Die gemiddelde leeftydrisiko vir borskanker onder SA vroue is een uit 29.
Feite oor borskanker:
* elke twee minute word daar ʼn vrou met borskanker gediagnoseer;
* een uit elke agt vroue wat 85 jaar en ouer word sal in haar leeftyd borskanker kry;
* 70% van alle gevalle van borskanker word ontdek deur selfondersoeke;
* agt uit 10 keer is knoppies nie kankeragtig nie;
* mans loop ook ‘n gevaar om borskanker op te doen.
* ’n mammogram kan borskanker tot soveel as twee jaar vroeër uitwys voor dit groot genoeg is om te voel.
Wat is die simptome?
Vroeë borskanker toon gewoonlik nie simptome nie, maar soos die gewas groter word kan die bors anders begin lyk of voel. Tipiese veranderinge sluit die volgende in:
* ’n knop of verdikking in of naby die bors of in die armholte;
* ’n verandering in die vorm of grootte van die bors;
* kuiltjies of rimpels in vel van die bors;
* ’n tepel wat na binne inkeer;
* abnormale afskeiding van die tepel;
* skubberigheid, rooi of geswelde vel op die bors, tepel of areola (die donker deel rondom die tepel) en
* die vel van die bors lyk of voel soos lemoenskil.
Hoekom is die vroeë opsporing van borskanker belangrik? Borskanker wat vroegtydig opgespoor word, kan meer doeltreffend behandel word met ’n groter kans op herstel. Al voel jy nou gesond, staan jy nog steeds ʼn kans om borskanker te ontwikkel omdat jy ’n vrou is en ouer word. Gereelde ondersoeke gee egter gemoedsrus – vroegtydige opsporing kan jou lewe red. Wees bewus van hoe jou borste normaalweg lyk en voel. Bespreek enige veranderinge wat jy opmerk met jou gesondheidspraktisyn. Borsselfondersoeke behoort elke maand tydens ovulasie gedoen te word en verkieslik op dieselfde tyd van die dag.
Baie vroue ondervind dat hul borste soms knopperig voel – dit is normaal. As jy egter ’n verandering in jou borste of armholtes opmerk, vra jou gesondheidspraktisyn om ’n kliniese borsondersoek (KBO) te doen. ’n KBO is ’n visuele en tasbare ondersoek van die hele bors – vanaf die sleutelbeen tot die bralyn en van die armholtes tot by die borsbeen.
Watter metodes anders as die selfondersoek is daar om borskanker te identifiseer?
Behalwe vir ’n kliniese borsondersoek is daar ook mammogramme en borssonars. Mammogram – vir vroue in hul post-menopousale ouderdom. Vroue ouer as 40 word aanbeveel om ten minste een keer per jaar vir ’n mammogram te gaan. Borssonar – veral vir jonger vroue, aangesien mammogramme dan nog nie altyd knoppe identifiseer nie.
Is daar gevalle wanneer vrou knoppe ontdek wat nie kankeragtig is nie?
Ja, ’n Fibro-adenoom in die bors is ʼn klein tumor wat gewoonlik nie kwaadaardig is nie. Dit is ’n hormonale verdikking van weefsel en verklein gewoonlik na ’n tyd. Fibro-adenome hoef nie noodwendig verwyder te word nie, tensy dit vergroot of dokters rede het om te glo dat dit kwaadaardig is.
Voorkomingsmaatreëls vir borskanker:
Daar is geen wenresep wat gevolg kan word om verseker te wees dat jy nie borskanker kan kry nie, maar daar is wel ’n paar dinge wat jy kan doen om die risiko van borskanker te verlaag:
vier ure oefening per week verminder die risiko van borskanker, want dit verbeter die immuunstelsel.
’n Gesonde dieet is ook voordelig, veral baie vrugte en groente verminder die risiko. Alkohol vergroot ook jou risiko vir borskanker en moet dus matig gebruik word. Studies toon ook ’n toenemende risiko vir vroue onder 35 jaar wat voorbehoedmiddels vir langer as 10 jaar gebruik.
Moderne risiko-bepaling maak dit moontlik om jou individuele risiko te bepaal en ook voorkomend op te tree.
Indien jy ’n knop in jou bors ontdek of bewus raak van enige ander abnormaliteite, besoek gerus jou naaste hospitaal of kliniek. Vra die klinieksuster om jou te wys hoe om ’n selfondersoek te doen en tree voorkomend teen borskanker op. Hoe gouer dit geïdentifiseer word, hoe beter is jou kanse op herstel.
Ter afsluiting, waar kan jy meer inligting oor borskanker kry?
Jy kan jou naaste openbare kliniek besoek en die gesondheidspraktisyns daar raadpleeg vir meer inligting. Indien jy enige abnormaliteit in jou borste opspoor, tydens self-ondersoeke, raadpleeg onmiddellik jou geneesheer of kliniek. Die personeel daar sal jou die proses verder verduidelik.
Die beste plek vir meer inligting en ondersteuning is die Kanker Vereniging van Suid-Afrika (KANSA). Hulle webtuiste beskik oor ʼn groot databasis van inligting oor ondermeer borskanker.
Besoek hul webtuiste by www.cansa.org.za of skakel hul hulplyn by 0800 22 66 22.



