Plaaslike kultuurleiers vereer
HEIDELBERG - Die Vaaldriehoek-Kultuurnetwerk van die FAK het tydens hul jaarlikse Osbraai van die Suikerbosrand Geloftefees erkenning aan verskeie kultuurleiers, waaronder DA politieke hoof van Lesedi Plaaslike Munisipaliteit Freddie Peters en plaaslike inwoner Jorrie Jordaan gegee.
Dié toekenning is gemaak vir hul reusebydrae tot kultuur in die gemeenskap en ook aan die Suikerbosrand Geloftefees.
“Kultuurnetwerke gee graag erkenning aan plaaslike kultuurleiers vir hulle dienswerk. Dit dien as geleentheid om dankie te sê vir hul onbaatsugtige diens, opoffering en onderhouding van ons taal en kultuur,” het projekorganiseerder Marianda Schlebusch gesê.
Peters is sedert 1975 by die Kliprivier Kultuurraad betrokke en is in 1986 as voorsitter van die Kultuurraad aangestel. Hy was ook verantwoordelik vir die reëling en beplanning van die Groot Trek 150-fees wat in 1988 plaasgevind het.
“Peters word steeds as ’n steunpilaar van die Vaaldriehoek-Kultuurnetwerk beskou en ons vereer hom vir sy jarelange bydrae vir die bevordering van Afrikaanse taal en kultuur,” aldus Schlebusch.

Jordaan is in Heidelberg gebore en getoë en het sy skoolloopbaan by Laer en Hoër Volkskool voltooi. Na skool het hy ‘n B Ed-graad verwerf en is later as hoof by Laerskool AG Visser aangestel, waar hy tot 1998 gedien het. Jordaan het ook jare lank op die Geloftefees se komitee gedien en het ‘n toekenning vir uitsonderlike diens aan die Suikerbosrand Geloftefees ontvang.



