Local newsNews

Plaaslike kwadrupleeg veg dapper voort

NIGEL - Die afgelope drie maande sedert die ongeluk wat hom 'n kwadrupleeg gelaat het, was nie sonder beproewings of uitdagings nie, maar dit gaan deesdae beter met Jaco le Roux (27).

Ollie, soos hy onder sy vriende en die plaaslike rugbygemeenskap bekendstaan, was op 16 Augustus in ‘n ongelukke op die R42 naby Bergsig betrokke waartydens hy sy nek gebreek en rugmurg ernstig beseer het. Weens die aard van sy beserings is hy van die borskas af verlam en omdat hy nie oor ‘n mediese fonds beskik nie, staar hy duisende rande se toekomstige uitgawes ten opsigte van fisioterapie en mediese onkoste in die gesig.

Ollie is kort na die ongeluk by die Life Suikerbosrand Hospitaal gestabiliseer en daarna na die Life Springs Parkslands Hospitaal oorgeplaas waar die beskadigde welwels chirurgies verwyder is. Sy ouers Nico en Charlene het die astronomiese mediese kostes eers self gedek, maar dit het later bykans onmoontlik geword en is daar op ‘n hulpfonds besluit.

Tydens ‘n ontmoeting met HERAUT op 20 November, het ‘n emosionele Charlene erken daar was wipplank-oomblikke waartydens Ollie se gesondheid by tye drasties versleg het, maar dit gaan nou weer beter, ondanks die feit dat sy immuunstelsel gereeld deur ‘n virus aangeval word. Hy sterk tans tuis aan waar Charlene en haar dogter Denise hom 24 uur van die dag om die beurt versorg, maar hy moet nog gereeld behandeling wat rehabilitasie en spierkondisionering insluit, ontvang.

Ollie is ‘n kwadrupleeg, wat beteken hy het geen gebruik van sy hande of bolyf nie, terwyl ‘n parapleeg wel sy bolyf en hande kan gebruik.

Na die ongeluk het die gemeenskap nie geskroom om die voormalige nommereen-stut van Nigel Rugbyklub se eerstespan te ondersteun nie en is ‘n gholfdag vir fondsinsameling op 1 November aangebied. Nagenoeg 150 spelers het die stokke vir dié belangrike gebeurtenis laat swaai en dit het ‘n stewige bedrag van R176 307 ingesamel. Die Le Rouxs was oorstelp van vreugde, want dit het beteken dat hulle vir Ollie die voorgeskrewe meganies-aangedrewe rolstol kon koop.

“Elke dag is ‘n seëning en daar is soveel engele oor ons pad gestuur. Langs hierdie weg wil ons vir Julien Uys, Louis Bezuidenhout, Danika Petzer, Amanda Meadon en die hele gemeenskap van Nigel vir hul onvoorwaardelike hulp en bystand bedank. Ons is met liefde en omgee oorval en dit is ‘n riem onder die hart om te weet dat mense in tye van nood kan saamstaan,” het Charlene gesê.

Wat sy toekoms betref is daar nog geen duidelike vooruitsigte of onmiddellike planne nie, maar volgens Charlene laat Ollie hom nie onderkry nie en hunker sy boerehart elke dag terug plaas toe. In ‘n spesiale boodskap het Ollie elkeen bedank wat die afgelope drie maande na die gesin uitgereik, finansieel bygedra of net ondersteun het.

Finansieel lê daar nog ‘n lang en opdraende stryd voor en enige person wat ‘n finansiële bydrae wil maak, kan die volgende bankrekening gebruik: Jaco (Ollie) le Roux Hulpfonds, Standard Bank rekening nommer: 301237891 (takkode: 012242 en takkode vir elektronie betaling: 051001).

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Heidelberg Nigel Heraut in Google News and Top Stories.

Magda Maritz

News editor and journalist for HERAUT newspaper. 'Read what you like and like what you read' is my motto.

Related Articles

Back to top button