Nigel inwoners gemaan om teen Bloemendal-steelkoolmyn te appelleer
Die VF Plus doen ‘n beroep op die Nigel-gemeenskap om voor 9 Desember vanjaar ʼn appèl-aansoek teen die oprigting van ʼn oopgroef-steenkoolmyn te ondersteun.

“Skrywes kan aan die departement van mineralebronne gerig word en moet hulle voor 9 Desember bereik,” het Mari Boshoff VF Plus-raadslid van Lesedi Plaaslike Munisipaliteit, gesê.
Volgs Boshoff het die departement ondanks teenkanting van boere en omgewingskundiges, die geïntegreerde omgewingsplan vir die myn goedgekeur.
Die gemeenskap voer aan dat die Bloemendalmyn nie goedgekeur behoort te word nie omdat mynaktiwiteite waterbronne wat die vlei en waterpanne voed, sal vernietig.
Die myn val ook in die Nigel-landbounode waar veral opkomende boere gewasse verbou wat deel vorm van die voedselmandjie van Gauteng.
‘n Groot gebied van die myn sal die Blesbokspruit en gewilde Marievale Ramsar-bewaringsgebied insluit waar skaars voëlspesies en skoenlappers voorkom. Inwoners is verder bekommerd dat die myn op dolomitiese gebied opgerig word en wanneer water uitgepomp word om steenkool te ontgin, sinkgate kan inval.
“Die departement het ‘n steenkoolmyn op gedeeltes van die plase Vischuil, Bosmanskop, Leeuwkop, Winterhoek en Honingfontein buite Heidelberg afgekeur. Dit volg na afloop van ‘n openbare deelnameproses, waartydens redes aangevoer is rondom die kritiese ekologiese sensitiewe area waar die myn opgerig sou word, die belangrike biodiversiteit rondom die bewaringsgebiede, botsende mynregte en grondeise,” het Boshoff gesê.
Die VF Plus in Heidelberg het boere bygestaan en vele vergaderings bygewoon om mynbase te help oorreed om nie ‘n steenkoolaanleg in die gebied te vestig nie.
Die party sê hy sal aanhou veg teen mynhuise wat ten koste van landbou en omgewingsbewaring myne wil oprig waar dit nie werklik noodsaaklik is nie.
“VF Plus is nie teen ontwikkeling gekant nie, maar die gemeenskap moet ook in die besluitneming geken word,” het Boshoff gesê.
Lede van die word genooi om skriftelike besware by die kantore van die departement van mineralebronne, Environmental House, hoek van Steve Biko- en Soutpansbergstraat, Arcadia, Pretoria, in te handig of vir meer inligting, skakel Boshoff by 072 547 0481.



