Selfdood – waar kry ek hulp?
NIGEL/HEIDELBERG - Volgens navorsing neem een persoon elke 40 sekondes hul eie lewe. Dit beteken dat meer mense elke jaar weens selfdood sterf, as in ‘n oorlog.

Daar word dikwels gesê dat mense wat oor selfdood praat, dit nie sal doen nie. Dit is egter nie waar nie.
Enige dreigement van selfdood moet ernstig opgeneem word. Tot soveel as 75% van mense wat oor selfdood praat, sal ‘n poging aanwend. Dit beteken dat alle selfdoodgesprekke as ernstig opgeneem moet word.
Jy kan iemand help deur hom of haar ernstig op te neem wanneer daar oor selfdood gepraat word. As jy self gedagtes oor die dood of selfdood het, moet jy dadelik hulp soek.
* ‘n Paar dinge om te doen as jy dink aan selfdood: praat onmiddellik met ‘n vriend of iemand wat jy vertrou; probeer ten alle koste om nie alleen te wees nie, moenie alkohol of ander dwelms gebruik nie, praat met mense wat omgee en vra hulle om gevaarlik voorwerpe weg te sluit en moenie selfdoodgedagtes ‘n geheim hou nie. Dit is nie ‘n skande nie.
* Wat om te doen as iemand naby jou selfdoodgedagtes het: Praat met die persoon daaroor en vra op ‘n simpatieke manier dat die persoon jou meer daarvan moet vertel. Moenie veroordeel nie, dit help dat die persoon moontlik insig kan kry in sy of haar situasie. Dit sal jou ook help om hulp te kry of hulp aan te bied. Kry hulp en moenie selfdoodgedagtes ‘n geheim hou nie. Dit is beter om later te verduidelik dat jy bekommerd was.

Niebuhr het voorgestel dat wanneer jy bekommerd is oor jouself of iemand anders, om ‘n mediese dokter vir evaluasie te besoek of praat met jou leraar of geestelike leier. Dit is belangrik dat die persoon wat met selfdood worstel hulp kry by ‘n professionele persoon. Verwys die persoon dus na iemand wat kan help.
“Dit is ‘n realiteit dat die tye waarin ons leef en die sosiale en ekonomiese druk soms net te veel raak vir mense, en ek verwys nou na mense van alle ouderdomme. Dit is nie net volwassenes en ouer mense wat dit doen nie, maar die huidige statestieke toon ook ‘n skerp styging onder tieners. Net oor jy in die Verre Oosrand bly, beteken nie dat daar nie hulp vir jou ook is nie. Daar is mense wat daar sal wees vir jou,” het Niebuhr gesê.
Indien jy nie aan ‘n kerk behoort of nie vrymoedigheid het om met ‘n geestelike leier te praat nie, kan jy jou plaaslike nooddienste of polisiestasie besoek en vra of hulle ‘n kapelaan kan voorstel met wie jy kan praat. Daar is verder talle maatskaplike werkers wat ook bystand kan bied.
“Besef net dat jy spesiaal en uniek is. Jou lewe is die moeite werd en jy hoef nie op te gee nie. Daar is mense wat omgee en wat wil help. Strek net jou hand uit,” het Niebuhr aangedui.
Waar om hulp te kry:
Wanneer jy raad of hulp van enige aard nodig het, is dit altyd ‘n goeie idee om met jou plaaslike gemeente of dominee, pastoor of geestelike leiers kontak te maak, maar die volgende nommers is ook van belang:



