Local newsNewsUpdate

Lewensgetroue poppe bied vertroosting aan Heidelberg bejaardes

Adventhaven se Alzheimer afdeling sien verskil by lyers wanneer hulle poppe liefkoos.

Hulle is weerlose bejaardes wat sukkel om die werklikheid van ‘n ‘droomwêreld’ of hul eie verlede te onderskei. Hulle sukkel om hul geliefdes te onthou en dit is maklik om in hierdie anderse, onseker wêreld van ‘n Alzheimerlyer verlore te raak.
Deesdae skyn daar egter ‘n sonstraal van hoop in die andersins wasige gedagtewêreld van inwoners van die Alzheimer
afdeling van Adventhaven Sorgsentrum vir Verswakte Bejaardes. Die opheldering het in die vorm van babapoppe (met hul lewensgetroue gesigte en uitdrukkings) diep in die harte van pasiënte geklim.

Die 81-jarige Rina Bester hou een van die babapoppe styf vas en streel liefdevol oor die pop se wang. Sy kyk diep in die ‘baba’ se potblou oë en druk haar lippe sag teen die pop se mond. Malie Taljaard (70) gesels land en sand met besoekers terwyl sy haar ‘baba’ op haar skoot vashou. Malie gesels soos enige ander persoon van haar ouderdom en dit is eers wanneer sy dieselfde sinne herhaal, dat jy besef dat sy ‘n Alzheimerlyer is.

Rosa Biggs (ontvangsdame) van die sentrum vertel dat ‘n ander bejaarde dame wat maklik ontsteld word, dadelik bedaar sodra een van die poppe in haar arms gesit word. Nog ‘n pasiënt wat nêrens sonder haar hondteddiebeer gegaan het nie, het nou besluit dat die hond gebêre moet word en dat die ‘baba’ sy plek moet inneem want die twee ‘balklei’ glo.

Rosa Biggs (ontvangsdame) wys die lewensgetroue poppe wat aan Adventhaven Sorgsentrum vir Verswakte Bejaardes se Alzheimer afdeling geskenk is.

“Die poppe het ‘n merkbare positiewe verskil in ons pasiënte se lewens gebring. Hulle voel weer dat hulle iets vir iemand beteken en die poppe bring ook ‘n mate van beskerming. Hulle voel veilig en gebonde wanneer hulle ‘n pop vashou,” het Rosa vertel.

Die lewensgetroue babapoppe of Reborn poppe soos hulle bekendstaan, is aan die sentrum geskenk nadat Rosa via sosiale media daarvoor gevra het. Sy het by iemand gehoor hoe sulke babapoppe ‘n groot verskil in die lewens van ander Alzheimerlyers gemaak het. Lana van Niekerk van die Paarl in die Wes-Kaap maak dié babapoppe self en het besluit om agt aan Adventhaven te skenk.

Rosa sê nie al die pasiënte hou van die poppe of wil hulle vashou nie. Dit word geensins op hulle afgedwing nie en die poppe word ook net elke tweede of derde dag uitgehaal tensy ‘n pasiënt vir ‘n ‘baba’ vra.
Rina wys na twee van die poppe wat knus toegedraai in babakomberse op ‘n bank sitgemaak is. “Is hulle nie pragtig nie? Hulle is so oulik,” sê sy voor sy haar kop agteroor in die stoel laat sak en weer in haar eie wêreld ‘verdwyn’.
Indien jy meer oor Adventhaven Sorgsentrum vir Bejaardes en die Alzheimer afdeling wil uitvind, kan Rosa of Riekie van der Hoven (matrone) by 016 342 0500/22/52 geskakel word.

 

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Heidelberg Nigel Heraut in Google News and Top Stories.

Related Articles

Back to top button