Maak vol vir Ollie
Jaco le Roux van Nigel, wat op 16 Augustus in ‘n ongeluk op die R42 naby Bergsig betrokke was en daarna weens die aard van sy beserings permanent verlam gelaat is, se aangrypende verhaal het talle inwoners se harte diep geraak.

Ollie het in gelukkiger dae voor die ongeluk vir Nigel Rugbyklub gespeel en was ook bekend as hul nommereen-stut. Op die veld hy menige opponent gewys waar Dawid die wortels gegrawe het. Dit is nou al ses maande sedert die ongeluk en hoewel hy volgens sy ma Charlene, soms wipplank-oomblikke beleef, gaan dit goed met hom.
Ollie is egter ‘n parapleeg (van die borskas af verlam) en omdat hy nie oor ‘n mediese fonds beskik nie, staar hy duisende rande se mediese uitgawes en toekomstige mediese onkoste in die gesig.
Ná die ongeluk het die gemeenskap hul beursies oopgemaak en ‘n hulpfonds wat in Ollie se naam gestig is goedhartig ondersteun, maar die mediese onkoste en behandeling word nie minder nie en word daar steeds fondse benodig.
Enige person wat ‘n finansiële bydrae wil maak kan die volgende bankrekening gebruik: Jaco (Ollie) le Roux Hulpfonds, Standard Bank rekeningnommer: 301237891 (takkode: 012242 en takkode vir elektroniese betaling: 051001).

Daar is wel ander maniere om Ollie finansieel te ondersteun deur byvoorbeeld jou motor onder die hutsmerk #Support Ollie met brandstof te vul by die Auto City Sasol Vulstasie in Springsweg, Nigel. Die vulstasie skenk dan ‘n donasie aan die hulpfonds.



