Local newsNews

Plaaslike kenner lewer wenke ter bewusmaking van gesonder aarde

Die 45ste Wêreld Omgewingsdag is op 26 Januarie gevier om bewusmaking van die beskerming van ons omgewing te bevorder.

Volgens die Verenigde Nasies produseer die gemiddelde persoon wêreldwyd sowat ses ton koolstofdioksied per jaar.

Bome (tesame met oseane) is ‘n wonderlike manier om vir dié voetspoor te vergoed. Bome is een van die hoof meganismes op die planeet wat koolstof absorbeer. Die uitwerking van die mens se koolstofdioksied voetspoor op die planeet word daagliks deur die media weergegee en dit is nie ‘n mooi prentjie nie.
Indien elke persoon ses bome per maand plant, is dit genoeg om jou ses ton koolstofdioksied voetspoor uit te wis.

Org Fritz (plantkundige) van Heidelberg stem saam dat bome een van die beste wyses is om tot die omgewing by te dra. Inwoners moet egter daarop let om inheemse bome wat in die plaaslike omgewing sal aard te plant.

“Om meesal inheems te plant, is ‘n uitstekende manier om die natuur na jou tuin te lok en omgewingsbewustheid te bevorder. Hou die grootte van jou tuin met die grootte wat die boom gaan groei in aanmerking. Die soetdoring is byvoorbeeld ‘n inheemse boom wat in Heidelberg en omgewing aard, maar dit word baie groot en is nie geskik waar kinders speel nie aangesien dit dooie takkies met dorings afgooi,” het Fritz gesê.

Inheemse plante wat nektar produseer is volgens Fritz ‘n goeie manier om ‘n natuurlike omgewing in jou tuin te skep wat voëls en skoenlappers sal lok. Bome bied beskutting, slaap- en nesmaakplek. Dit produseer ook voedsel soos vrugte en bessies.

Fritz het voorstelle gegee van inheemse bome wat in Heidelberg en Nigel sal aard. Al die Buddleja spesies dra geurige blomme wat skoenlappers lok.
Gewone haakdoring (Senegalia caffra of voorheen Acacia caffra genoem) word ongeveer 8m hoog. ‘n Interessante feit is dat Suid-Afrika die naam Acacia moes verander omdat Australië dit glo eerste geannekseer het en hul akasia bome nie dieselfde spesie is nie.

Soetdoring (Vachellia karroo of voorheen Acacia karroo) word ongeveer 15m hoog. Treur salie (Buddleja auriculata) is ‘n immergroen boom en word so 3 tot 4m hoog.

Wilde salie (Buddleja saligna) is ook ‘n immergroen boom en word so 3m hoog. Witstinkhout (Celtis africana) word ongeveer 10m hoog. Vaderlandswilg (Combretum erythrophyllum) word so 10m hoog. Kiepersol (Cussonia paniculata) is ‘n immergroen boom wat ‘n mooi fokuspunt in enige tuin sal wees en word ongeveer 3.5m hoog.

Kannabas (Dais cotinifolia) wat ongeveer 3m hoog word. Kruisbessie (Grewia occidentalis) is ‘n digte immergroen bos van so 3m hoog. Wildeperske (Kiggelaria africana) is ‘n immergroen boom wat so 8m hoog staan.

Wilde Olyf/Olienhout (Olea europaea) is ‘n subspesie van die africana en is ‘n immergroen boom wat tot 10m hoog kan word. Huilboom (Peltophorum africanum) kan tot 8m hoog word. Geelhout (Podocarpus henkelii) is ‘n immergroen boom wat ‘n hoogte van 20m kan bereik. Blinkblaar (Rhamnus prinoides) is ‘n digte immergroen bos van so 3m hoog. Kareeboom (Pyroides lancea wat eers as Rhus lancea bekendgestaan het) is ‘n immergroen boom met ‘n hoogte van so 8m.

Witkaree (Pyroides pendulina) is ook immergroen en word ongeveer 8m hoog. Blinkblaar wag-‘n-bietjie (Ziziphus mucronata) word so 6m hoog.

Die beste tyd om ‘n boom te plant is voor of in die lente. Dit gee die boom tyd om gevestig te raak voor die koue wintermaande begin.

Fritz sê mense moet versigtig met onkruiddoders werk aangesien dit waardevolle insekte soos bye kan uitwis. “Natuurlike beheer sal gewoonlik die probleem oplos en daar is ook middels op die mark wat omgewingsvriendelik is,” het hy afgesluit.

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Heidelberg Nigel Heraut in Google News and Top Stories.

Magda Maritz

News editor and journalist for HERAUT newspaper. 'Read what you like and like what you read' is my motto.

Related Articles

Back to top button