David op die pad na herstel
Dit gaan goed met David van As ná hy op 28 Januarie 'n hartaanval gehad het en inderhaas 'n operasie moes ondergaan.

Van As was die voormalige voorsitter van Rensburg GPF en tans vise-voorsitter van GPF Heidelberg. Hy en sy vrou Linda was in Richardsbaai toe hy gedurende die nag borspyne ontwikkel het.
Van As sê die pyne het erger geword. Hy is ‘n gesoute fietsryer en sorg dat hy fiks bly. Hy het deur die nag telkens opgestaan om te gaan stap om te sien of die pyn nie wil bedaar nie. “Ek het aanvanklik vermoed dit is slegte spysvertering en gedink as ek stap sal dit verbygaan,” het Van As gesê.
Die benoudheid het deurgaans gepla en Linda het hom die volgende oggend hospitaal toe geneem.
Die dokter het bevind dat hy ‘n hartaanval gehad het en dat ‘n stent inderhaas in sy aar geplaas moes word. Nadat reëlings met chirurge in Durban gemaak is, is hy soontoe oorgeplaas.
Van As sê die operasie was ‘n sukses en hy voel weer klopdisselboom. Hy vat dinge effens stadiger, maar verder gaan sy lewe so normaal moontlik voort.
Hy het selfs kans gesien om weer ‘n potjie rolbal saam met Linda te speel.
Van As waarsku dat geen borspyne of benoudheid geïgnoreer moet word nie. Dit is belangrik om dadelik mediese hulp in te roep.
“Ek is dankbaar dat die Here my nog ‘n kans gegee het om voluit te lewe. Ek ry weer fiets en is besig met voorbereidings vir ‘n staptog in die Visrivier Canyon oor ‘n paar maande. Baie dankie vir almal se goeie wense en gebede deur hierdie tyd,” het Van As afgesluit.



